By Palm Oord word met oorgawe mooi gemaak…

Die tuin (bo en regs onder) op ’n oop ruimte in Palm Oord, met sy verskeidenheid plante en paadjies, klippe en kleurvolle blomme is inderdaad ’n lewendige kunsstuk wat aangepas en verander kan word - soos ’n inwoner, Alet Badenhorst, daarna verwys.

Bo: Die twee getroue werk­nemers van Palm Oord op Oudtshoorn, Elbie Plaatjies (links) en Christo Booysen, in een van die oord se talle parke. Plaat­jies is al ses en Booysen al 14 jaar by die onderhoud van die tuine en parke daar betrokke.

Een van die talle parke in die oord met ’n geplaveide paadjie wat inwoners lok vir ’n wandeling tussen die bome deur. Foto’s: Liesel le Roux

BY Palm Oord op Oudtshoorn, ’n residensiële veiligheidsoord, blom die lente veelkleurig in die talle tuine en parke wat deur die jare deur ver­skeie inwoners op oop ruimtes aangelê is.

Die parke is daar vir almal om te geniet, sê een van die inwoners betrokke, Alet Badenhorst.
Daar is oral geplaveide paadjies waar mense kan wandel, bankies om op te sit, tafeltjies versier met mo­saïekteels, dammetjies met water vir die voëls en skilpaaie, baie kleur, baie detail en ’n verskeidenheid waterwyse plante wat tuis is in die droë en warm Klein Karoo.

Volgens Himine Botha, nog ’n in­wo­ner, is die beginsel van deelname deur inwoners baie belangrik by die oord en is dit duidelik uit die wyse waarop ’n inwoner soos Adele Marais saam met dagbestuurslede en tuinwerkers die parke tussen die huise mooi maak en onderhou. (Deur Liesel le Roux)