’N BAANBREKER vir sakevroue in Suid-Afrika, Rika Venter (87), is Dinsdag in die vroeë oggendure op Oudtshoorn in haar slaap oorlede.
Venter, ’n inwoner van Millenium Park, was die stigter van die Suid-Afrikaanse Raad vir Sakevroue in 1988, Suid-Afrika se eerste sakekamer vir vroue.
Volgens haar kleindogter, Angelique Erasmus, het haar gesondheid die afgelope week verswak nadat sy verlede Woensdag ’n beroerte gehad het.
Venter het op 16 Julie haar eggenoot met wie sy 69 jaar getroud was, Thinus (94), aan die dood afgestaan.
Die Venters het in 2012 van George, waar hulle die eienaars van die Artistico Kunsgalery was, na Oudtshoorn verhuis. Hulle het was die afgelope drie jaar inwoners van Millenium Park.
Vir Venter was die Suid-Afrikaanse Raad vir Sakevroue wat in ’n tydvak ontstaan het toe die sakewêreld nog ’n manswêreld was die verwesenliking van ’n droom.
Sy het dit so in ’n onderhoud met Die Hoorn ’n aantal jare gelede beskryf: “Gedurende die 1980’s moes vroue die moue oprol en hulle mans en hulle huishoudings ondersteun. Dit was ’n wonderlike ervaring om te sien hoe begaaf vroue was en hoeveel vroue ontdek het dat hulle eintlik entrepreneurs was.”
Venter was ook die eerste vrou wat in die hoofbestuur en dagbestuur van die AHI gedien het asook in die dagbestuur van die Johannesburg Afrikaanse Sakekamer (JAS). Sy was met haar dood ’n erelid van die AHI en die South African Council of Business Women (SACBW). (Deur Liesel le Roux)
Baanbreker vir sakevroue op Oudtshoorn oorlede
Rika Venter (87), baanbreker-sakevrou en inwoner van Oudtshoorn, wat Dinsdag oorlede is, saam met haar man Thinus (94) wat in Julie oorlede is. Hulle was 69 jaar getroud. Foto verskaf