Dien nou voorstelle in vir 2023 se KKNK

Oudtshoorn se Janion Kennedy (ook bekend as die kletsrymer Noemwoord) tydens vanjaar se Karookaarte Afsluitingskonsert by die KKNK. Foto: Hans van der Veen

KREATIEWE skeppers, kunstenaars, vervaardigers en musikante word genooi om nou program­voorstelle vir volgende jaar se KKNK in te dien.

“Ons is op soek na innoverende en kreatiewe voorstelle om by die feesprogram in te sluit,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK.

Die 27ste KKNK sal van 1 tot 9 April 2023 op Oudtshoorn plaasvind.
Volgens Theart stel die programspan belang in voorstelle vir teaterproduksies, musiek, straatteater en -kuns, visuele kuns, optredes op die feesterrein se musiekverhoë, opelugkonserte, asook Klein Ka­roo-ervarings wat Oudtshoorn en die Klein Karoo se natuurskoon, geskiedenis en gehalte-produkte tentoonstel.

Innoverende voorstelle, debuutwerke, nuutge­skrewe tekste en musiek, eg Suid-Afrikaanse stories, konseptuele werke en interessante kom­bi- nasies sal voorkeur geniet.

“As ’n nasionale kunstefees is dit die KKNK se doel om ’n platform te wees wat uitnemende en professionele werk van Suid-Afrikaanse kunstenaars aanbied. Die fees skep ook platforms vir nie-professionele of amateur-optredes en die fokus val hier veral op Oudtshoorn en sy omgewing.
Programvoorstelle kan so gou moontlik aanlyn ingedien word.

Die voorstelvorm, asook ’n volledige lys programriglyne is beskikbaar by www.kknk.co.za. Dié vorm moet volledig ingevul word.

Interessante voorstelle vir gespreksreekse of kreatiewe werksessies kan direk aan Theart ge­stuur word by hugo@kunste.org.za, asook spesifieke voorstelle of idees vir programinhoud én idees wat geoormerk kan word vir toekomstige ont­wikkeling vir die feeste van 2024 en 2025.

Vir algemene navrae kontak Lizané Basson by lizane@kunste.org.za of 044 203 8600.