DIE finalisering van die Blossoms-noodwater-pyplyn kan uiteindelik voortgaan nadat die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit en die laaste grondeienaar oor wie se eiendom die pyplyn moet loop, ’n skikking bereik het.
’n Finale ooreenkoms is Dinsdag (23 Augustus) tussen die munisipaliteit en die grondeienaar, die Gerrie Ferreira Familietrust (GFFT), gesluit na kommer deur die eienaar dat konstruksie op sy eiendom, wat wildskampe insluit wat deur toeriste besoek word, tot ’n verlies van inkomste kan lei.
Die voltooiing van dié projek – wat nodig is om die dorp se toekomstige watertoevoer aan te vul en te verseker – se laaste struikelblok was nuwe voorwaardes van die GFFT om die konstruksie van die pyplyn op die trust se grond toe te laat.
Die GFFT het verdere vergoeding versoek vir die maande van konstruksie met ’n bedrag van net meer as R7 000 per dag tydens die periode van konstruksie. Volgens berekeninge van die munisipaliteit sal die bouwerk daar sowat drie maande duur.
Die raad het tydens ’n vergadering van 10 Augustus eenparig besluit om dié versoek eers verder te ondersoek. Tydens ’n daaropvolgende spesiale raadsvergadering verlede Vrydag (19 Augustus) was die pyplyn die enigste besprekingspunt op die agenda. Die trust is gevra om sekere dokumentasie te voorsien, maar volgens onder andere burgemeester Chris Macpherson en raadslede Abraham Tiemie en Colan Sylvester is dié relevante dokumente nie ingedien nie.
Die GFFT het wel in sy terugvoer aan die raad die volgende versoek: “Ten opsigte van die feit dat die kwytskelding waardeer word, gaan die langtermyn-voordeel wat die GFFT daaruit gaan kry, nie vergoed vir die onmiddellike verlies aan inkomste tydens die konstruksiefase van die pyplyn nie.
Die toerismebedryf het groot verliese tydens die Covid-19-pandemie gelei en die GFFT is nie tans in ’n posisie om verdere verliese te absorbeer nie.”
Volgens die trust se skrywe is dit van mening dat hul verlies aan inkomste tydens die konstruksiefase uniek is. “Geen ander eienaar deur wie se eiendom die pyplyn loop, ly ’n direkte verlies aan inkomste soos wat die GFFT ly nie,” sê die skrywe. Die trust het aangevoer dat konstruksie juis tydens die piek van die toerismeseisoen in die omgewing sal plaasvind, en hulle sal verhoed om besoekers/toeriste daarheen te neem.
Die trust het met ’n alternatiewe versoek na die raad gekom vir ’n eenmalige bedrag van R250 000 (+BTW) met sekere verdere voorwaardes – onder meer dat die konstruksie op ’n spesifieke deel tussen 1 September en 27 Oktober vanjaar gedoen sal word, en tweedens dat, indien konstruksie nie teen die vasgestelde datum voltooi is nie, ’n bedrag van R7 332 (+BTW) daagliks gehef sal word totdat die konstruksie voltooi is.
Tydens die spesiale raadsvergadering is dié alternatiewe versoek aanvaar, asook dat ’n ooreenkoms so spoedig moontlik gesluit moet word om die kontrakteurs genoegsame tyd te gee om die werk te voltooi.
Macpherson het ook ’n lys wysigings by aanbevelings van die munisipale bestuurder voorgestel wat ook deur die raad aanvaar is, onder meer dat indien konstruksie voor die vasgestelde periode voltooi word, daar ’n finansiële voordeel vir die munisipaliteit sal wees.
Die ooreenkoms tussen die munisipaliteit en die GFFT is Dinsdag gesluit.
Volgens Aurelia Mle, munisipale woordvoerder, beteken dit dat die laaste 12 km van die pyplyn nou voltooi kan word. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Blossoms-noodwaterpyplyn: Laaste struikelblok oorkom
Die burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Chris Macpherson, spreek die raad toe tydens die gesprek oor die Blossoms-noodwaterpyplyn. Foto: Stefan Skapie Goosen