

Bernard Herman (links), hoof van die Oudtshoorn Chevra Kadisha, en Louis Venter van Wessels en Kie Grafsteenwerke ondersoek Dinsdag die skade. Foto’s: Stefan Skapie Goosen
DIE Joodse Begraafplaas in Condorstraat op Oudtshoorn is die afgelope naweek vir die hoeveelste maal deur vandale geteiken. In die bestek van twee dae is bykans 50 grafstene in hierdie geskied- kundige laaste rusplek vir Joodse inwoners van die dorp óf omgegooi, óf heeltemal verpletter.
Dié vernietiging het lede van die klein Joodse gemeenskap wat steeds op die dorp woon, soos Bernard Herman, hoof van die Oudtshoorn Chevra Kadisha wat na die begraafplaas omsien, met die hande in die hare gelaat van woede, frustrasie en selfs hartseer.
Volgens Herman het dié vandalisme beslis oor die naweek plaasgevind, waarskynlik tussen Vrydag en Saterdag, omdat geen grafstene omgegooi of stukkend was toe hy verlede Donderdag (18 Augustus) daar was nie.
Die meeste van die 50 grafstene is nou in stukke gebreek of erg beskadig, en ’n klag is intussen by die polisie ingedien.
Herman het Dinsdag, terwyl hy en Louis Venter van Wessels en Kie Grafsteenwerke die skade in die begraafplaas ondersoek het, gesê hy kan glad nie verstaan hoekom mense so iets sou doen nie.
“Dit is verskriklik! Dit is ’n gemors! Dit is hartverskeurend!
“Buiten die feit dat die vandalisme herhaaldelik plaasvind, kan ons ook nie eens die begraafplaas beveilig nie omdat die heining en heiningpale ook elke keer afgesteel word.
“Die kamerastelsel wat ons geïnstalleer het, is ook al afgesteel. Ons weet nie meer wat om te doen nie.
“En as ek nou eendag nie meer hier is nie? Wie gaan dan daarna omsien?”
Die skade aan die grafstene is nog nie vasgestel nie, maar dit sal beslis ’n hele paar rand kos om dit te herstel en vas te sement.
Soos in die verlede gaan die beskadigde grafstene nie meer regop geplaas word nie, maar platgelê word op die graf waar hul eers gestaan het.
Venter sê dat indien al die grafstene vervang sou moes word, dit maklik meer as R200 000 sou beloop.
“We are fighting a losing battle. Ons sal nou maar net elke keer aangaan om hulle reg te maak en plat te lê,” het Herman moedeloos gesê.
Herman is nou al so raadop dat hy ’n kontantbeloning aanbied vir enigeen wat inligting kan verskaf wat tot die inhegtenisname van die skuldige persoon of persone sal lei. Sy selnommer is 078 053 6002.
• Die vorige voorval van vandalisme in die Joodse Begraafplaas op Oudtshoorn, het twee jaar gelede op 14 Augustus, bykans dieselfde datum, plaasgevind. Daar is toe meer as 30 grafstene in die begraafplaas omgegooi. (Deur Stefan Skapie Goosen)