Munisipale swembaddens en parke toe in feestyd

MUNISIPALE swembaddens en parke sal gesluit wees vir die duur van die feestyd.

Die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit het gister (Woensdag 16 Desember) bekend gemaak dat die swembaddens en parke sluit omdat die munisipaliteit deel is van die Tuinroete Distrik wat Maandag deur pres Cyril Ramaphosa tot brandpunt verklaar is.

Luidens ’n munisipale kennisgewing sal voor­komingsmaatreëls soos hierdie hopelik die verdere verspreiding van Covid-19 beperk

“Die situasie sal gemoniteer word en indien nodig sal nuwe inligting aan die inwoners gekommunikeer word,” lui dit voorts.

Die munisipaliteit het inwoners en besoekers aan die Groter Oudtshoorn versoek om Covid-19-protokol te volg en maskers te dra wat hul neuse én monde bedek, hul hande te was of te ontsmet en ook veilige sosiale afstand tussen hulle en ander te handhaaf.