Me Kannaland sorg vir blydskap in kinderharte

Me Kannaland, Mariska van Rooyen, by van Voorbaat se kinders wat met ongeloof en groot blydskap geskenke van haar ontvang het. Foto: Deon Meyer

SY het haar vormingsjare op ’n plaas deurgebring, het daarna gaan studeer, haar as opvoeder be­kwaam, ’n skoonheidstitel losgeslaan en besluit om as Me Kannaland 2020 na haar wortels uit te reik met ’n positiewe boodskap aan die plaas­kinders van Voorbaat en Van Zylsdamme, Ladismith.

Dit was presies wat Mariska van Rooyen op Saterdagoggend, 6 Desember, gedoen het toe sy geskenke aan kinders van die plase uitgedeel het.
Mariska, ’n voormalige Grondslagfase-op­voeder, is vroëer vanjaar tot Me Kannaland 2020 verkies. Sy is tans die eienaar van ’n suksesvolle wegneemete-besigheid op Ladismith.

Sy vertel dat haar moeder haar deurgaans aan haar voorneme herinner het om ’n verskil te maak en ook seker gemaak het dat sy deur die jaar geskenkies aanskaf.

Op die vraag waarom sy juis die kinders van Voorbaat en Van Zylsdamme bo dorpskinders gekies het, antwoord Mariska: “Ek het nie net ’n teer plekkie in my hart vir plaaskinders nie, maar hul omstandighede maak van hulle nederige en dankbare kinders. Ek weet, want ek is self ’n plaaskind”.

Mariska sê nadat mense van haar voorneme gehoor het, het sy skenkings van verskeie organi­sasies en individue ontvang, iets waaroor sy baie dankbaar is. (Deur Deon Meyer)