BUITEBANDE is verlede Donderdag (10 Desember), die dag nadat die ANC twee wyke in die tussenverkiesing op Oudtshoorn gewen het, buite die party se kantoor in Adderleystraat aan die brand gesteek.
’n Man op die toneel het aan Die Hoorn gesê mense wat na bewering werk soek, het omstreeks 10:15 die buitebande in die pad voor die kantoor aan die brand gesteek.
Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is ’n verdagte in hegtenis geneem wat op 11 Desember in die hof verskyn het op ’n klag van opsetlike saakbeskadiging.
Volgens Visser het die brand skade aan ’n muur van die gebou veroorsaak.
Vuyo Noyila, ’n ANC-ondersteuner wat wag gestaan het voor die ANC-kantore met sy brandblusser in hand, sê hy het die brand geblus.
Die munisipale wetstoepassers en die Oudtshoorn Polisie was kort na die voorval op die toneel,
Lerumo Kalako, Wes-Kaapse sameroeper van die ANC, het die insident as “intimiderende taktiek” bestempel.
Kalako het gesê die ANC vermoed die brand was ’n voorbedagte optrede omdat die mense wat na bewering betrokke was, van die Bridgton-omgewing afkomstig was, wat ’n hele ent van die kantoor af is.
“Ons is oortuig daarvan dat hulle die bande saamgebring het,” het Kalako gesê.
• Die tussenverkiesing het op 9 Desember in Wyk 4 (Bridgton en Bongolethu), Wyk 5 (Bridgton) en Wyk 10 (Dysselsdorp) plaasgevind nadat drie DA-raadslede vroeër vanjaar uit die party en dus die munisipale raad bedank het.
Die ANC het Wyke 5 en 10 verower, terwyl die DA Wyk 4 behou het.
Die DA het na die tussenverkiesing 12 raadslede in die Groter Oudtshoorn-raad, die ANC 10, Icosa 2, Sarco 1 en die EFF 1.
Die DA, Sarco en Icosa het einde Julie ’n koalisie gevorm wat die raad tans beheer. (Deur Stefan Skapie Goosen)