DIE saak teen die bestuurder van die BMW waarin die 18-jarige Marilize Nortier op 22 September 2019 gesterf het, is Maandag tot 2021 uitgestel omdat die hof weens ’n Covid 19-geval gesluit moes word.
Alle sake is onder ’n motorafdak buite die hofgebou uitgestel.
Landdros René Gerber het die saak teen Sydney Berry (23) van George tot 29 Januarie 2021 uitgestel.
Berry se regsverteenwoordiger, Bulelani Bans van Dercksen Prokureurs Ingelyf op Knysna, het weer die media versoek om nie foto’s van sy kliënt te publiseer nie.
Hy het die hof tydens Berry se eerste verskyning meegedeel dat hy bekommerd is oor Berry se veiligheid en gesê dat Berry se vader hom daaroor genader het.
Volgens Berry se pa het hy dreigemente ontvang dat sy seun glo “uitgesorteer” gaan word wanneer hy vir die saak na die hof toe kom.
Daar was egter Maandag geen tekens van mense wat Berry bedreig het nie.
Hy en sy pa het net soos die ander mense wat die dag moes verskyn, voor die hofhekke gewag totdat sy naam geroep is.
Berry se hofverskyning volg op ’n beslissing van die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) dat hy vir strafbare manslag, alternatiewelik roekelose of nalatige bestuur, en versuim om by ’n ongelukstoneel hulp te verleen na ’n botsing vervolg moet word.
Die motor waarin Nortier ’n passasier was, het die aand tussen Oudtshoorn en die Kango Grotte die pad verlaat en in ’n watervoor beland.
Berry het toe glo die toneel verlaat en later weer teruggekeer.
Nortier was steeds in die voertuig vasgegordel toe dit ure later uit die water gesleep is.
’n Nadoodse ondersoek het later bevind dat sy dood is nadat sy verdrink het.
Berry is nie in hegtenis nie en uit op waarskuwing. (Deur Garnett Wicomb)