Mossiestraat-inwoners sê hulle is nou keelvol vir smokkelary

Past Daniël Flink (ge­ruite hemp) en sy ontstoke bure.

Wat ’n rustige Sondagmiddag vir inwoners van die dorpie Ladismith kon wees, het die afgelope Sondag vir die inwoners van Mossiestraat in die woonbuurt Nissenville ’n middag van aksie geword.

’n Geestelike leier, past Daniël Flink, het sy bure in ’n mini-optog na ’n beweerde smokkelhuis in die straat gelei. Flink het die polisie van dié optog verwittig, met kapt Henry Edwardes wat ’n wakende oog gehou het.

Opmerklik was die moeders in die optog die vurigste. “Vandag vat ons ons straat terug. Ons wil ons kinders in die vrese van die Here grootmaak, maar onder hierdie omstandighede kan jy nie. Jy kan nie eers jou kind winkel toe stuur nie,” het Sally Julius gesê.

Volgens Flink is die smokkelaars gewoonlik vlugtelinge uit die stede wat hul bedrywighede op die platteland wil voortsit. Hy is van mening die afsetpunt is in Kaapstad.

“Hulle kom snags in om aflewerings te doen en het geen vaste patroon sodat ’n mens hulle kan vastrap nie,” sê ’n ontstoke Flink.

Toe die huisbewoner daar aankom, het hy aan Die Hoorn gesê hy gebruik tik, maar ontken dat hy by smokkelary betrokke is.

Ontstoke inwoners het hom egter doodgeskree met die woorde: “Jy sal sien; ons gaan die plek toemaak!”

Die inwoners is later uitmekaar.

Volgens Flink het hy verstaan die polisie gaan ’n lasbrief kry om die perseel te deursoek. (Deur Deon Meyer)

Be the first to comment on "Mossiestraat-inwoners sê hulle is nou keelvol vir smokkelary"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*