Onwettige immigrant onskuldig bevind aan dwelmhandel

’N NIGERIESE burger wat in Thembalethu, George, woon, is in die Oudtshoorn Streekhof onskuldig bevind op ’n klagte van handel in dwelms. Hy is egter skuldig bevind op ’n klagte dat hy die Wet op Immigrasie oortree het.

Volgens Chiedozie Emmanuel (26) was hy op 28 Februarie 2020 vanaf George op pad na Oudts­hoorn toe hy drie mans ’n rygeleentheid gegee het. Hy het naby Blossoms gestop en hulle gevra het om hom te betaal omdat hy geld nodig gehad het vir brandstof.

Hulle het glo geweier en uitgeklim.

Hy is net buite Oudtshoorn deur die polisie agtervolg en by ’n Engen-vulstasie gevra of die voertuig deursoek kan word. Emmanuel het aan die hof gesê hy het niks gehad om weg te steek nie en toestemming gegee, waarna die polisie 532 gram tik onder die passasiersitplek gevind het.

Hy kon nie wettige verblyfdokumente toon nie.

Volgens Emmanuel het hy die motor by iemand gehuur en nie van die dwelms geweet nie.
Streeklanddros Sylvia Mandla het bevind dat die staat nie sy saak ten opsigte van die dwelms bo redelike twyfel bewys het nie.

Emmanuel het skuldig gepleit op die klagte dat hy onwettig in die land is en is ’n boete R2 000 of 12 maande gevangenisstraf opgelê. (Deur Garnett Wicomb)