Dekodeerders nodig vir ou TV’s

Heel bo is die ou tipe TV-lugdraad waarvoor ’n dekodeerder soos die een op die onderste foto gekry moet word.

TV-KYKERS wat nog ’n analoog-lugdraad (aerial) gebruik om TV te kyk sal ’n boodskap sien op die SABC-kanale wat hul aanraai om na die Poskantoor te gaan en te registreer vir ’n dekodeerder. Dit geld nie vir TV-kykers wat hul sein via ’n skottel ontvang nie.

Die rede hiervoor is dat Sentec, die nasionale seinverspreider, besig is om TV-seine in Suid-Afrika van analoog na digitaal te verander.

Sodra die verandering gedoen is, sal jy sonder die nuwe dekodeerder geen TV-seine ontvang nie.

Digitale seine bied ’n beeld van beter gehalte en meer kanale. Hierdie proses moes al jare gelede afgehandel gewees het, maar weens verskeie vertragings, word dit tans eers gedoen.

Die proses word in fases gedoen. Die implementering geskied per provinsie. Die Wes-Kaap word in November 2021 gedoen en sal per sender gedoen word.

Slegs huishoudings wat SASSA-toelaes kry of minder as R3200,00 per maand se inkomste kry, kwalifiseer vir ’n gratis dekodeerder.

Om ’n dekodeerder te ontvang, moet daar ’n werkende TV wees en ’n geldige TV-lisensie.

As u vir ’n dekodeerder gaan aansoek doen, moet u die volgende dokumente saamneem:
• Bewys van inkomste vir die hele gesin;
• ID dokument (slegs Suid-Afrikaners kwalifi-seer);
• Bewys van adres (LW: dit moet die adres wees waar die dekodeerder geïnstalleer moet word);
• ’n Polisieverklaring wat aandui dat die TV in werkende toestand is; en
• ’n TV-lisensie.

Persone wat hierdie dekodeerder wil bekom, moet vroegtydig by die Poskantoor gaan registreer.

’n Ander opsie is om van ’n satellietskottel-veskaffer gebruik te maak om ’n TV-sein te gebruik. U kan van Openview of DSTV gebruik maak. Let wel dat u die installasie van die skottel self moet betaal. (Deur Heinrich Bosman)