489 oor naweek in distrik vasgetrek

BYKANS 500 verdagtes is oor die naweek in die Eden Kluster (Tuinroete-distrik waaronder die Groter Oudts­hoorn en Kannaland ook val) deur die polisie vasgetrek vir verskeie oortredings.

Volgens Malcolm Pojie, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, is 489 mense tussen Vrydag en Sondagoggend om 06:00 in hegtenis geneem tydens patrollies in gebiede waar misdaad hoogty vier, asook tydens stop-en-soek-operasies by dwelm- en drankverkooppunte.

Dit sluit oortredings in verband met die besit van onwettige vuurwapens en die opspoor van verdagtes wat gesoek word.
Die meeste verdagtes het Maandag in howe verskyn.

In die proses is 838 mense en 192 voertuie deursoek, vyf verkeersboetes vir verkeersoortredings en onpadwaardige voertuie (altesaam R3 400) uitgereik, terwyl 76 mense boetes ontvang het (altesaam R74 200) vir die oortreding van die Covid-19-regulasies.

Daar is toegeslaan op nege onwettige dwelmverkooppunte en op dagga en Mandrax beslag gelê.

Al dié verkooppunte is gesluit.

Die bevelvoerder van die Eden Kluster, gnl.maj. Oswald Reddy, het gesê dié sigbaarheid en optrede van die polisie dra by tot die voorkoming van ernstige misdade soos moord, roof, huishoudelike en geslagsgeweld asook aanranding.

Hy het inwoners van die hele Tuinroete Distrik aangemoedig om Covid-19-regulasies te gehoorsaam om die verspreiding van die virus te voorkom en ook om die aandklokreël wat elke aand tussen 23:00 en 04:00 van toepassing is, te gehoorsaam. (Deur Liesel le Roux)

Be the first to comment on "489 oor naweek in distrik vasgetrek"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*