Môrester: Ouers ontevrede oor WKOD se besluit oor skoolhoof

Ouers betoog Maandag (1 Augustus) buite die Hoërskool Môrester in Bridgton, Oudtshoorn. Foto: Stefan Skapie Goosen

OUERS van leerders wat skoolgaan by die Hoërskool Môrester in Bridgton, Oudtshoorn is ontevrede met ’n besluit van die Wes-Kaap Onderwys­departement (WKOD) rakende die skool se vakante skoolhoofpos; in so ’n mate dat hulle sedert Vrydag (29 Julie) voor die skool betoog.

Die beheerliggaam van die skool, wat soos die ouers ontevrede is oor die besluit, het selfs Vrydag besluit om die skool se deure te sluit terwyl hulle vir terugvoer wag van die WKOD en die distrik se kringbestuur. Leerders word sedert Maandag weer toegelaat om die skoolterrein binne te gaan.

Volgens ongelukkige ouers is daar reeds ’n meer as bevoegde waarnemende hoof by die skool. Die ouers sê hulle vertrou dié waarnemende hoof, Frank Williams, met hul kinders se toekoms, en sal verkies dat hy amptelik as skoolhoof aangewys moet word. Volgens hulle doen hy dit alreeds vir 18 maande en wil hulle by die WKOD weet hoekom Williams se aansoek vir die pos van die hand gewys is, al het hy volgens hulle alles wat nodig is om die pos vol te staan.

“Vandat mnr Williams by die skool is, het al die grade se slaagsyfers verbeter, om nie eens die matriekslaagsyfer te noem nie. Hy stel werklik belang in elke kind, elke ouer én hul omstandighede.

Hy is nie die tipe hoof wat net in sy kantoor sit nie, of net ’n gesig vir die skool is nie,” sê Clarina Sass, wat Maandag namens die groep ouers met Die Hoorn gepraat het.

Die ouers sê hulle wil Williams spesifiek as skoolhoof hê.

’n Ouer van De Rust wat gevra het om anoniem te bly, het gesê dat Williams byvoorbeeld met oueraande verstaan dat sy dit nie sal kan bywoon nie, maar die moeite doen om haar na die tyd te kontak en haar in te lig oor wat gebeur het.

Volgens die groep ouers het bykans elke aspek van die skool verbeter sedert Williams as waarnemende skoolhoof optree. Hulle vertel dat Williams vir die meeste van hulle ook skoolgehou het.

“Daar is geen rede dat die WKOD hom nie kan aanstel nie. Al rede waarvan ons weet, is dat een of ander buitemaatskappy ’n toets vir hom gegee het, en as gevolg daarvan is hy nie aangestel nie,” het een van die ouers gesê. Hiermee is verwys na ’n psigometriese toets.

Die ouers het ook hul kommer uitgespreek dat omstandighede by die skool onstabiel sal raak indien Williams nie aangestel word nie, en al die werk wat hy daar verrig het, tot niet sal gaan.

• Bronagh Hammond, woordvoerder van die WKOD, het op navraag gesê dat die departement vandeesweek met die beheerliggaam sal vergader om die pad vorentoe te bespreek.

“Ingevolge die Wet op Indiensneming van Opvoeders is die hoof van die WKOD die gedelegeerde gesag om die finale besluit oor die aanstelling van skoolhoofde te neem. Die WKOD is die werkgewer. ’n Vergadering is vir die week met die beheerliggaam geskeduleer om die aanstelling van ’n permanente skoolhoof vir die skool te bespreek,” het sy gesê.

Volgens Hammond sal Williams tot 31 Desember vanjaar as waarnemende hoof aangestel word, en is die beheerliggaam van die WKOD se voorneme om dit te doen in kennis gestel.

“Ons erken hul kommer, wat in hierdie forum bespreek sal word. Enige ontwrigting van onderrig- ​​en leertyd is egter uiteindelik nie in die beste belang van die leerders nie.”

Die Hoorn het gister met die skool bevestig dat ouers steeds buite die skool betoog. (Deur Stefan Skapie Goosen)