Moordenaar hoor op 10 Februarie wat sy lot is

SIPHAMANDLA CLAASSEN (28) van Smartie Town wat twee en ’n half jaar gelede skuldig bevind is aan die moord op en ver­kragting van sy meisie, Juliana Lingerveldt, sal na die slotbetoë van die staat en die verdediging tot volgende maand moet wag om te hoor wat sy lot is.

Die hof het bevind Claassen het die aand van 8 Oktober 2016 vir Lingerveldt met ’n klip teen die kop gekap, en haar daarna ontklee en verkrag.

Haar naakte lyk is die volgende oggend deur ’n verbyganger naby die volstruis­slagpale opgemerk. Twee jong mans wat die betrokke aand saam met Claassen en Lingerveldt gekuier het, het getuig dat hulle gesien het hoe hy sy meisie aanrand en verkrag.

Streeklanddros Neels Nortje het Claassen se weergawe verwerp en hom aan moord en verkragting skuldig bevind.

Die staatsaanklaer, Corné Pretorius, het die hof vir lewenslange gevangenisstraf gevra vir een van die wreedste moorde en verkragtings in die Oudtshoorn-distrik wat hy van weet. Volgens hom het moord en verkragting nou al so algemeen ge­word dat dit nie eers meer die hoofopskrifte van koerante haal nie.

Volgens hom is ’n weerlose vrou wreed vermoor en haar naakte liggaam deur ’n verbyganger gesien. Dit moes ’n grusame toneel gewees het, het hy gesê.

Hy het die hof versoek om nie Claassen se ouderdom en die feit dat hy ’n eerste oortreder is as versagting in ag te neem om van die voorgeskrewe vonnisse af te wyk nie.

Die beskuldigde en die oorledene het vir ’n tyd saam gewoon en sy het hom vertrou.

Lingerveldt se tante, Katy Lingerveldt, by wie sy gewoon het, het getuig dat die familie steeds hartseer is oor haar dood.

“Juliana was ’n baie sagte persoon en almal se vriend. Ons mis haar geweldig en sy was ’n goeie ma vir haar twee seuns,” het die bedroefde Lingerveldt getuig.

’n Maatskaplike werker, Kyle April, het in sy verslag aanbeveel dat direkte gevangenisstraf die enigste gepaste vonnis sal wees, hoewel die beskuldigde sterk onder die invloed van alkohol was.

Claassen het erken dat hy die oorledene met ’n groot klip teen die kop gekap het maar gesê hy het nie bedoel het om haar dood te maak nie.

Sy regsverteenwoordiger, Eugene Roos, het die hof versoek om vir vonnis-oplegging in ag te neem dat hy betreklik jonk is en reeds twee en ’n half jaar in aanhouding is. Volgens Roos sal lewens­lange gevangenisstraf “skokkend onvanpas” wees. Hy het die hof ook versoek om die klagtes saam te neem vir vonnis.

Vonnisoplegging is uitgestel tot 10 Fe­bruarie. (Deur Garnett Wicomb)