“OM in sak en as te sit en heeltyd te kyk na die probleme gaan nie ons dorp vorentoe neem nie. Ons moenie in die berg vaskyk nie. Ons moet eerder kyk hoe die privaatsektor die munisipaliteit se hand kan vat en die dorp vorentoe kan neem.”
Dit was deel van die boodskap van die uittredende voorsitter van die Oudtshoorn Besigheidskamer, Stephan Cornelissen, verlede Donderdagaand, 24 Februarie 2022 tydens die Besigheidskamer se Algemene Jaarvergadering by Surval.
Cornelissen het gesê daar is steeds die hoop dat die dorp kan terugkeer na sy vorige glorie en dat samewerking in dié verband baie belangrik is.
Hy het gesê die belangrikste inisiatief van die Besigheidskamer die voorafgaande jaar was juis ’n adviesraad wat op die been gebring is en waardeur die kamer hande wou vat met die munisipaliteit om bystand te verleen om die dorp vorentoe te neem.
Dié projek was egter nie die sukses waarop die kamer gehoop het nie, hoofsaaklik as gevolg van met voortdurende veranderinge binne die raad se topstruktuur en drie burgemeesters binne enkele maande.
Volgens Cornelissen is die kamer bewus daarvan dat daar groot nood op die dorp is, onder meer ten opsigte van die opgradering van die tartanbaan en NA Smit Swembad wat essensieel is vir die aanbieding van groot sportgeleenthede.
Ander belangrike projekte in 2021 was ’n bydra tot ’n verkeerskamera as deel van ’n Agri-inisiatief om die dorp teen misdaad te beskerm en die Kers vir Covid-projek wat medelye getoon het met almal wat deur die pandemie geraak is. (Deur Liesel le Roux)
‘Moenie in berg vaskyk nie’
Die Oudtshoorn Besigheidskamer se nuwe bestuur vir 2022 is verlede Donderdagaand (24 Februarie) by die Algemene Jaarvergadering van die kamer aan teenwoordiges bekend gestel. Voor van links sit Lourens Swanepoel en Abri Ferreira, en agter van links staan Bert Verlinde, Suné Rupping, Hanno Hills, Jacobus Maloney, Hennie Davel en Deslynne Malgas. Afwesig: Heléne Badenhorst. Die voorsitter en onder-voorsitter is nog nie verkies nie. Foto: Schalk le Roux
Goeie besluit !Hande vat , saamwerk en saam besluite naak is n goeie begin .Saam jan julle oor die berg tot by die top kom.👍🙏🏻