
Nog ’n slagoffer van ’n kitsbankdief. Moses Daries van Oudtshoorn met sy selfoon wat hom gewaarsku het hy is by ’n kitsbank uit sy geld gekul. Foto: Liesel le Roux
Deur Liesel le Roux
HY wil mense waarsku om nooit hulp van enigiemand by ’n kitsbank te aanvaar nie, want hy het al sy werkers se lone so verloor, vertel Moses Daries van Oudtshoorn.
Daries, wat as ’n subkontrakteur werk vir ASLA – die konstruksiefirma wat groepsbehuising in Oudtshoorn oprig – sê hy het Vrydagoggend omstreeks 08:20 by Nedbank op die dorp gaan geld trek om sy werkers te betaal.
“Ek het ’n fout gemaak en kan nou nie my werkers betaal nie. Moenie dieselfde fout as ek maak nie,” was sy boodskap aan ander.
Daries sê hy het ’n jong man wat by die kitsbank rondgestaan het, gevra om hom te help om die geld te trek omdat iets verkeerd was met die skerm.
“Toe ek die kaart wou indruk by die kitsbank het hy gesê ek hou die kaart verkeerd. Ek het gesê dit is reg maar hy het na my hand gegryp.”
Hy kon nie met enige transaksie aangaan nie en het voor die bank gestaan en wag dat die deure moet open. Hy vertel sy selfoon het afgegaan en hom gewaarsku dat R849 se drank by ’n drank-winkel in die Checkers-omgewing gekoop is.
Daar is ook R1 500 uit sy rekening getrek.
Daries vermoed die man het met die grypslag na sy bankkaart dit omgeruil met ’n ander kaart sonder dat hy dit agtergekom het. Hy sê toe die bankdeur open, het bankpersoneel inderdaad gevind dat ’n ander kaart in die kitsbank was.
Die bank het die kaart daarna geblok.
Kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, sê die polisie ondersoek die saak. Volgens hom het die voorval 08:22 plaasgevind.
Dit is nie in hierdie stadium duidelik of beeldmateriaal van die bank se sekuriteitskameras beskikbaar gestel sal word nie.
Volgens Daries gooi hy en sy werkers die sement vir die vloere van Fase 2-huise wat op Oudtshoorn gebou word en word geld aan hom oorbetaal wanneer van die werk gedoen is.
“Ek het nou dreigemente ontvang omdat ek nie tans die werkers kan betaal nie. Ek voel baie seergemaak deur alles, maar ek het net nie nou die geld nie.”