
Stoffel Botes, speaker van Prins Albert, Maandag by die landdroshof. Op die inlas is die klaagster, Elzanne Arries (voor), en haar suster, Leandre. Elzanne het ook op ‘n aanrandingsklag verskyn.
Deur Marlene Malan
HULLE was eers goeie vriende – maar dié vriendskap tussen familielede het ernstig versuur ná ‘n beweerde groepsbakleiery vroeër vandeesmaand op Klaarstroom. Dis oor dié fisieke en verbale onmin dat die speaker van Prins Albert se stadsraad, Stoffel Botes (DA), Maandag in die beskuldigdebank op Prins Albert gestaan het op ’n aanklag van aanranding.
Sy vrou, Carina, wat glo ook in die bakleiery voor die gesin se huis betrokke was, het hom by die hof ondersteun, en die klaagster – haar niggie, Elzaine Arries (31) – is deur haar suster, Leandré, en vriende en naaste familielede ondersteun.
Arries is nét ná Botes na die beskuldigdebank geroep, toe ook sy op ’n aanrandingsklag verskyn het – wat weer deur Botes en sy gesin teen haar gelê is.
Nie Botes of Arries is gevra om te pleit nie, en Botes se saak is uitgestel tot 1 Maart, terwyl Arries se saak tot 8 Maart uitgestel is.
Botes het Maandag by die hof aan Die Hoorn gesê: “Ek moes in Son lees van die klag wat teen my gelê is. Ek het niks hiervan geweet nie. Ek is ’n dorpsleier, en my gevoel is dat hierdie hele ding teen my georkestreer is – deur ANC-lede wat die verkiesing hier verloor het en my nou in ’n swak lig wil stel.”
Maar volgens Arries was daar ’n taamlike rowwe bakleiery op Saterdagaand 4 Februarie op Klaarstroom, reg voor die Botes-gesin se huis. “Ons het almal lekker gekuier, en toe besluit ek om ’n familielid van my huis toe te vat. Dit was omtrent middernag. Ek het vir haar gesê sy is dronk.”
Dis klaarblyklik oor hierdie aanmerking dat ’n onderonsie tussen Arries en die Botes-gesin ontstaan het. “Stoffel het my met die vuis op die mond geslaan. Hy het so hard geslaan dat ek my broek net daar natgemaak het.”
Arries het foto’s op haar selfoon aan Die Hoorn gewys van haar geswelde mond, wat glo ná dié beweerde hou geneem is. “Die hele gesin het my gepak – Stoffel, Carina, hul dogter, Belinda, en Stoffel se suster. My rok is van my afgeskeur en iemand het my op my regteroor geslaan.”
Sy erken dat sy ’n klip in die speaker se rigting gegooi het. “Ek kon eers ná twee dae polisiekantoor toe gaan om ’n klag te lê, so seer was my lyf van die slanery. Die hele besigheid ontstel my, maar ek sal tot die einde veg vir geregtigheid.”
Botes sowel as Arries het aan landdros Tom Gouws gesê hulle gaan hul eie regsverteenwoordiger aanstel om hul saak in die hof te verdedig.