
‘n Motor met twee luidsprekers op die dak en ‘n paar plakkate daarom, was buite die hof geparkeer. Foto: Garnett Wicomb
Masimthembe January (23), beter bekend as “MJ” en een van die vyf verdagtes in die moordsaak van die soldaat Preston Titus (49), het vanoggend in die Oudtshoorn Distrikshof sy borgaansoek laat vaar.
January se nuwe regsverteenwoordiger, Jerome Bans van Derksen Prokureurs op Knysna, het die hof kort na elfuur meegedeel dat sy kliënt besluit het om nie met die borgaansoek voort te gaan nie.
Die saak is verlede Donderdag vir ‘n formele borgaansoek tot vandag uitgestel nadat January die hof meegedeel het dat sy familie ‘n nuwe regsverteensoordiger aangestel het en hy nie meer van regshulp gebruik sal maak nie.
Hy word saam met die oorledene se vrou, Magdaleen, haar vriendin, Natasha Stuurman, asook Justice Mooi en Sixabiso Klip van die moord op Preston Titus aangekla.
Klip is na ‘n pleitooreenkoms met die staat reeds tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis, terwyl borgtog van R30 000 in die Kaapse Hooggeregshof aan Magdaleen toegestaan is, en R15 000 borgtog aan Stuurman.
Borgtog is aan Mooi geweier.
January is op 18 April vanjaar in Port Elizabeth in hegtenis geneem. Hy word in ‘n gevangenis op George aangehou omdat hy glo vir sy lewe vrees.
Landdros Johan Steynberg het die saak tot 4 Junie uitgestel. Dit is dieselfde datum wanneer Magdaleen Titus, Stuurman en Mooi weer in die hof verskyn.
Daar was min belangstelling uit die gemeenskap vir January se verskyning vandag. ‘n Motor met twee luidsprekers op die dak en ‘n paar plakkate daarom was buite die hof geparkeer. (Berig deur Garnett Wicomb)