Gebruik kanse om opvoeding te kry
Dit is kommerwekkend om te sien hoe leerders van verskillende skole en ouderdomsgroepe (hulle word aan hul skooldrag geïdentifiseer) soggens net na die skooldag ’n aanvang geneem het, doelloos in die strate van Bridgton ronddrentel.
Sommige van die leerders se reaksie op navraag rondom hul onaanvaarbare optrede is in baie opsigte ontstellend. Onderwys en opleiding is van die middele wat ’n beter toekoms in die lewe van die student in die vooruitsig stel. Binne die afsienbare toekoms sal hierdie leerders deel word van die onrusbarende werkloosheidstatistiek wat besig is om die hoogte in te skiet. Dié toedrag van sake plaas geweldige druk op die belastingbetaler en departement maatskaplike ontwikkeling, wat ’n enorme begroting van nasionale tesourie ontvang maar dit moeilik vind om reg te laat geskied aan die behoeftes van ’n deel van ons gemeenskap wie se lewensomstandighede nie na wense is nie.
Suid-Afrika bestuur ’n derdewêreldekonomie, en die onstabiele ANC-regering vergemaklik ook nie beleggings wat instrumenteel tot werkskepping en ekonomiese groei kan wees nie. Die politieke en ekonomiese ongelykhede van die verlede het hierdie welsynsafhanklikheid-sindroom tot gevolg, maar nou is daar ’n geleentheid om die verkeerde van die verlede reg te stel deur gelyke geleenthede positief te benut. Indien ons kinders, onderwysers, ouers en gemeenskap hierin faal, sal die tussentydse maatreël van maatskaplike ondersteuning ’n permanente reëling word.
Onderwys en opleiding, dissipline, stiptelikheid, respek vir gesag, toewyding en harde werk moet ’n sentrale staanplek kry binne die onderwys- en opleidingslandskap. Die sogenaamde “entitlement” (ek is daarop geregtig), moet ten sterkste teenge-staan word en vervang word met selftrots, selfonderhouding en diensbaarheid.
Onderwysdepartemente voorsien net die geleentheid en die middele; die sukses bly die verant-woordelikheid van die student.
Ons as gemeenskap is medeverantwoordelik vir die toekoms en sukses van die jeug. As gemeenskap het ons onbe-wustelik gekonformeer met hoe dinge is, eerder as om te fokus op hoe dinge behoort te wees.
A good education is priceless, not to mention how expensive a good education has become.
We, as a community are letting God, our family, our country and ourselves down when we fail to take education and training seriously.
If we want to get the most out of our formal years of education, then laziness and entitlement must go. Get your priorities straight and take full advantage of your educational opportunities. Do not just work for a diploma or a degree, get an education.
– DA Piedt, Oudtshoorn
Nagtelike rumoer in die middedorp
Ek reageer op die berig in Die Hoorn verlede week oor die situasie in Baron van Reedestraat – die ge-raas vanuit motors se kattebakke, die openbare drankmisbruik, karre sonder knaldempers en vrouens se gegil op die oop terrein naby Q-Bar.
Dié “speelgrond” grens agter teen ons huis. Die nagtelike rumoer is téénaan ons heining. Indien iemand ’n radius van 100 m sal trek vanaf die “speelgrond” wat tussen Q-Bar en Gotlandhuis ontstaan het, sal dorpsleiers en die Toerismeburo besef dat dié toestand ’n uiters negatiewe impak op die karakter van ons dorp het. Binne daardie radius is daar verskeie woonstelbewoners, twéé tehuise vir bejaardes, ten minste vyf gastehuise en heelparty kerke. Hoe kan ons trots wees op ’n dorp waar jongmense toegelaat word om die rus te verstoor en die plek te bemors? Hoe kan beroepslui wat amper elke nag fuif, môre weer hul plek by die werk volstaan?
Die motors begin hul resies op die “speelgrond” en jaag dan af in Baron van Reedestraat en weer in Hoogstraat terug. Ook Club Fantasy se gaste deel soms in hierdie waansin. Ons moes al verskeie kere 04:00 soggens bondels jongmense voor die Moederkerk gaan soebat om luidsprekers met oorverdowende musiek af te skakel. Ek verwag nie dat die polisie (wat ons baie nagte bel!) oral mense stilhou nie, maar sekere straatgedrag is ooglopend onwettig! Ons benodig verkeerspolisie wat sommige nagte hul rondtes doen en natuurlik dapper polisiemanne wat die dinge kan vasvat en die probleme kan oplos.
Of wie kan hiermee help, asseblief ?
Volstruisie, volstruisie,
haal jou kop uit die sand!
Jou mooi ou Volstruisdorp
is snags aan die brand.
Motors wat aanhoudend toet
jaag deur die strate teen ’n helse spoed!
Resies en wheelies wat snags duur
tot nagklubs sluit teen halfvier.
In die middedorp hou dronkes hul straatparty
Geen toeris kan enige slaap inkry.
Met geskree en geskel
of gelag asof vanuit die hel.
Volstruisie, volstruisie
ons moet die standaard weer lig.
Volstruisie, volstruisie
kom ons vat die dorp terug!
Waar is die gereg
en waar is die wet?
Wie kan my help
as ek al 7x die SAP gebel het?
Volstruisie, volstruisie
haal jou kop uit die sand.
Want so kan niemand slaap of rus,
Vir so ’n gemors is NIEMAND meer lus!
– Ilsa van Schalkwyk, Oudtshoorn