Poem Mooney hervat met hierdie skrywe ’n rubriekreeks van hom wat ’n aantal jare gelede in Die Hoorn verskyn het, en vra – aan die hand van ’n gedig wat hy geskryf het – vrae oor sy dorp, land en wêreld waarin hy hom bevind.
Ek het baie nagedink oor ’n gedig wat ek in 2014/2015 herhaaldelik probeer skryf het.
Dit werk mos so. Jy wend ’n poging aan. Jy begin weer, oor en oor tot jy die regte woorde vind.
Uiteindelik het ek die gedig laat opneem in my digbundel Klipstapels wat in 2017 verskyn het.
Die naam van die gedig is Straatoorloë.
Ek het in die gedig teruggedink aan hoe daar gedurende die turbulente 1970’s tot 1980’s in Oudtshoorn opmarse was na die munisipaliteit en ander instansies as deel van die bevrydingstryd; en aan die Fattis en Monis- en ander verbruikersboikotte waarvan daar ook ’n paar struggle-gedigte in genoemde bundel verskyn.
Straatoorloë
Ek het Straatoorloë op bladsy 49 in die digbundel gaan oplees nadat ek die afgelope Pinksterreeks in die VGK Bridgton in Oudtshoorn bygewoon het. Die tema van die Pinksterreeks, Van Babel na Jerusalem na Kaapstad, was baie interessant en geestelik verrykend.
Die huidige situasie in die land het my herinner aan Babilon en die kinders van die Here, en die keuses wat ons in die lewe moet maak. Ek kon my nie indink aan ’n struggle wat so handuit geruk het soos ons dit deesdae ervaar nie.
Miskien omdat die huidige struggle-vennote nie deel was van daardie dissipline nie en omdat die politieke rolspelers anders “gebek” is?
“Entitlement”
Dit was toe dat die woord “entitlement” my soos ’n hamerhou tussen die oë getref het – die reg wat ’n mens jouself toe-eien om te maak en breek soos jy wil. En dit is net hier waar ek besluit het om die gedig weer te lees.
Die gedig het vier strofes, en ek lewer graag aan die hand van die gedig kommentaar oor wat ’n mens tans ervaar:
Hierdie is ’n ander oorlog, boetie
’n bloedlose stryd
sonder konvensionele wapens spoeg ons vuur teen
swak dienslewering, HIV en Vigs
gebrekkige gesondheidsdienste, dwelms, drankmis-
bruik
weerstandige TB wat deur vreemdes ingebring is
in die land van ons geboorte.
En dan vraag ek myself die vraag af: Hoeveel “bloedlose” stryde vind tans in ons land plaas, waar bome afgekap word, klippe die strate versper? Memorandums afgegee word, stakings en anargie plaasvind by klinieke, hospitale en openbare geboue? Dade wat spreek van dwaasheid, boosheid en nie-geregtigheid.
In die loopgrawe van ons beknopte woonbuurte
fulmineer ons teen ’n system wat in gebreke gebly
het
om woord te hou oor oplossings teen
die opstande in smokkeljaarte
liederlike bekgevegte in publieke werksplekke,
werkloosheid, swak behuising, bloedige gevegte oor
gebiedsgrense en weerstand oor besetting, van
mense uit buurlande wat jou woongebied vernou
Hierdie wanordelike optredes aangevuur deur dierlike drange van selfsug, selftrots en gewetenloosheid dui op die afwesigheid van selfrespek en loop uit op selfvernietiging en doen daarmee grootskaalse skade aan die beeld van Christus in ons. En ongelukkig kleef die smet aan ons karakter deurdat ons so wetteloos optree.
Mense raak gatvol vir politici, wat
hul oë en ore sluit vir die noodkrete van
noodlydendes in informele woonbuurte, waar
die infrastruktuur gebrekkig is
waar Armoede jou terughou.
Die oorlog is gemik teen die oorsake van honger-
snood
waar die dood skuil in elke donker straat en steeg
waar bendegeweld hoogty vier
waar mense angs en spanning moet verduur.
Ten slotte
In ons land vind sulke “oorloë” daagliks plaas, sonder dat ons die implikasies van anargie besef.
Wat is dit wat hierdie onheilige optredes aanvuur? Is dit bloot net om die woede en kwaad in ons te uit, of is dit ’n satanskultuur?
Hier is dit oorlog om elke hoek en draai
teen amptenare wat man en muis verraai
korrupte leiers wat die waarheid elke dag verdraai
om steun te koop by die verwarde stemvee, slaafse
navolgelinge, oningeligte drenkelinge, wat niks het
om te verloor in ’n wrede hartelose wêreld
met ’n ewe hartelose spreuk –
elkeen vir homself en God vir almal.