Selfvertroue en selfaanvaarding vorm die hart van vanjaar se Miss Full Figure Oudtshoorn-kompetisie, wat daarop gemik is om vroue te bemagtig.
Volgens Rodney Warren Gelant, direkteur van die skoonheidskompetisie, is die kompetisie veel meer as ’n skoonheidskompetisie.
“Dit is ’n platform waar vroue hul skoonheid, persoonlikheid en karakter kan uitleef. Ons wil hê elke deelnemer moet in die spieël kan kyk en in haarself glo. Baie mense dra uitdagings met hulle saam, maar ons wil wys daardie seer kan omskep word in krag,” sê hy.
Miss Full Figure Oudtshoorn het in 2018 begin toe Kay-Lee Piedt (nou Nichols) as die eerste titelhouer gekroon is, gevolg deur Elresha Mei in 2019. Ná ’n onderbreking is die kompetisie in 2022 hervat, met Elrisha Avontuur wat die kroon gewen het.
Gelant sê sowat 20 vroue het reeds vir vanjaar se kompetisie ingeskryf, met inskrywings wat tot einde Julie oop bly. Deelnemers moet 18 jaar of ouer wees en ‘n grootte 36 of groter dra.
“Ons fokus nie net op hoe iemand lyk nie. Persoonlikheid, karakter, selfvertroue en die vermoë om ander te inspi-reer, is net so belangrik.”
Die deelnemers gaan elke Sondag oefen waar hulle onder meer verhoogstap, choreografie en ander voorbereidings vir die eindronde inoefen.
Vanjaar se kompetisie bestaan uit twee be-oordelingsafdelings. Die tema is “In die Karoo”, wat deelnemers in die temadragafdeling deur sportdrag sal uitbeeld, terwyl die aanddragafdeling “Glitz and Glamour” sal volg.
Die topvyf finaliste kwalifiseer outomaties om aan Miss Full Figure Garden Route deel te neem.
Die publiek sal ook die geleentheid kry om hul gunstelingdeelnemers te ondersteun.
Na die deelnemers se amptelike fotosessie sal hul foto’s op Gelant se Facebook-blad verskyn, waar die publiek vir die titel Miss People’s Choice kan stem.
Gelant beklemtoon dat die kompetisie nie by die kroning eindig nie.
“Ons wil hê vroue moet besef dit maak nie saak waar jy vandaan kom of waardeur jy gegaan het nie. Elkeen verdien die kans om te skitter, gerespekteer te word en in hulself te glo.”
Gelant sê die sukses van die kompetisie berus op die ondersteuning van die gemeenskap.
Besighede en inwoners wat deur borgskappe, donasies of ander bydraes betrokke wil raak, is welkom om hom te kontak.
Die gemeenskap kan ook hul ondersteuning wys deur die fondsinsamelingsbraai op 31 Julie van 13:00 tot 17:00 by te woon.
Kaartjies kos R100 en sluit ’n ete in. Die opbrengs sal help om die deelnemers en die aanbieding van die kompetisie te ondersteun.
Die eindronde vind op 28 Augustus by die Toekomsrus Gemeenskapsaal plaas.
Deure open om 16:00 en die verrigtinge begin om 17:00. Kaartjies sluit ’n ete en ’n koeldrank in, terwyl geen alkohol op die perseel toegelaat sal word nie. Kinders is ook welkom.
Meer inligting oor die deelnemers en hul persoonlike stories is op Rodney Gelant se Facebook-blad beskikbaar. (MALISSA SPIES)
Lees ook:
Oudtshoorn se Rodney kook die skerm warm
Oudtshoorn’s Lethabo reflects on representing SA in Colombia
