Oudtshoorn se Rodney kook die skerm warm

Al van kleins af het Rodney Warren Gelant geweet dat kos vir hom meer as net ’n werk sou wees.
Dit is ’n manier om mense bymekaar te bring, stories te vertel en sy liefde vir sy familie en gemeenskap uit te druk.

Wat in die kombuis van sy ouma begin het, het hom oor meer as 20 jaar gelei na ’n suksesvolle loopbaan as spysenier en televisiepersoonlikheid, waar hy vandag sy vaardighede en kreatiwiteit op nasionale skerms kan deel.

“My inspirasie is my familie,” sê Rodney. “Almal wat my ken, weet hoe ek begin het: by my ouma Annie Gelant, my ma Christine Muller, en my ma se oorlede suster Sally Fouche (Gelant). Alles wat ek vandag in die kombuis en in my loopbaan doen, het sy wortels in die waardes en liefde van my familie.”

Rodney se deelname aan kompetisies soos Kokkedoor: Vuur & Vlam en Kookpunt het hom nie net op die nasionale kaart geplaas nie, maar ook baie oor homself laat leer.

“Die grootste uitdaging was om nie geïntimideerd te voel nie en net te fokus op my kookvernuf. My hoogtepunt? Kokkedoor: Vuur & Vlam, ek het binne ’n kort tyd besef dat elke dis ’n storie vertel.”
Hy deel graag grappige herinneringe van kompetisies, soos om twee dae lank dieselfde geswete klere te dra tydens ’n opname. Rodney het onlangs deelgeneem aan Colour Your Plate with Koo.

“Om gekies te word was ’n hoogtepunt op sy eie, en om vir Reuben Riffel te ontmoet, was ’n voorreg.
Tog was die grootste les vir my dat jou wortels altyd saam met jou reis, dat jy met trots moet kan sê waarvandaan jy kom en vir wie jy die kompetisie aanpak,” het hy verduidelik.

Tydens die kompetisie het Rodney ’n emosionele oomblik beleef wat hom diep geraak het. “My familie is alles vir my. In 2023 het ek my broer Sydwell Muller aan ’n hartaanval verloor. Dit het my geestelike en emosionele bestaan beïnvloed.

Tydens die kompetisie het dit my skielik getref hoe baie hy na my opgekyk het. Toe ek myself voorstel, het ek aanvanklik gesê ek doen dit net vir my, maar in daardie oomblik het ek besef dit is nie waar nie. Ek doen alles vir my familie.

Ek dra hulle met my elke keer as ek kook. Die kompetisie het dadelik begin nadat ek besef het dit is nie wat ek bedoel het nie. Ek moes my emosies opsy sit en fokus op die kook, maar binne was ek heeltemal geraak. Daardie oomblik het my laat besef hoe diep my motivering eintlik lê,” vertel Rodney.

Rodney beskryf sy kookstyl as vinnig en divers, met kerries en pastas as gunstelinge. Hy kombineer tradisionele resepte met nuwe idees en hou daarvan om klassieke geregte te moderniseer.

Hy haal inspirasie uit sy ouma en ma, soos sy ouma se beroemde fudge en sy ma se bobotie. “Alles wat ek doen, bring iets van my kultuur en familie saam. My ouma het gereeld kos voorberei vir Indiërs en Jode, en het verskeie disse daagliks gemaak vir hulle.

Die eerste dis wat ek self geleer het, was kerries saam met my ouma. My ma het ook altyd ’n groot liefde vir kook gehad en het my geleer hoe om klassieke Suid-Afrikaanse geregte, veral die uit Kook en Geniet resepteboeke, soos bobotie en malvapoeding voor te berei. Daardie vroeë herinneringe het die grondslag gelê vir my passie vir kos.”

Rodney se besigheid, Rodney’s Catering, het in 2010 begin en bied vandag alles van vingerhappies tot driegangmaaltye by troues, verjaarsdae en ander geleenthede. “Elke funksie is uniek. Ek maak alles vars, en wanneer alles voorberei is, verloop alles vinniger en makliker,” sê hy.

As inspirasie vir jong mense in Oudtshoorn raai Rodney aan: “Wees altyd jouself en omarm waar jy vandaan kom. Jou wortels lê die fondament, maar bepaal nie jou pad nie.”

Vir die komende jare het Rodney groot planne.

Meer televisie-optredes, ’n moontlike restaurant en sy eie kookboek. Hy fokus egter ook op sy geestelike en professionele groei.

“Baie dinge lê voor wat reeds in beplanning is, maar die meerderheid is nog geheim. Wat vir my belangrik is, is om geestelik en akademies gereed te wees vir die volgende vyf jaar.”

Vir sy nuutste kos-avonture en inspirasie, hou Rodney op sosiale media dop.

Met sy passie vir kos, sy diep liefde vir familie en sy verbintenis tot die gemeenskap is Rodney Warren Gelant ’n bewys dat wanneer jy in jouself en jou drome glo, jy verder kan gaan as wat jy ooit sou droom. (MALISSA SPIES)