“DAAR het ’n doringboompie vlak by die pad gestaan waar lange ossespanne met sware vragte gaan…,” skryf die digter Totius in sy bekende gedig. So begin ook die storie van die doringboompie van Oudtshoorn in die Klein Karoo.
In Februarie 2022 het ’n klein groen spruitjie, skaars ’n vuurhoutjielengte lank, langs die harde geteerde pad by Deel 308 van ’n aftreeoord in Oudtshoorn uit die droë grond verskyn. Die eienaar van die deel het dit opgemerk en besluit om die plantjie ’n kans te gee. Hy het ’n klein slootjie daarom gegrawe en water gegee.
Tot sy verbasing het die plantjie vinnig begin groei. ’n Buurman wat verbygeloop het, het egter opgemerk dat dit ’n soetdoring (Vachellia karoo) is – ’n plant wat as ongewens in die oord geklassifiseer is. Die gerug dat daar ’n “verbode” plant in die oord groei, het gou versprei.
Die eienaar het die oordkantoor besoek en gevra of die boompie nie tog maar kan bly nie. Die saak is na die tuinkomitee verwys wat op hul beurt ’n bewaringsbioloog geraadpleeg het.
In ’n skrywe van Richard D Carr, konsultant-bewaringsbioloog, is daarop gewys dat soetdorings in Oudtshoorn se strate groei sonder om sypaadjies te beskadig en dat die vreugde wat hierdie inheemse boom bring, dikwels groter is as die bekommernisse daaroor.
Intussen het die boompie sterk gegroei. Dit het ook terugslae beleef – onder meer tydens ’n sterk windstorm in 2025 wat dit byna middeldeur geskeur het. Een helfte moes verwyder word, maar die boom het herstel en vandag staan daar ’n pragtige regop doringboom, byna 10 meter hoog, met digte blare en skerp wit dorings.
Met die koms van lente in 2025 en vroeg 2026 het die boom ’n kenmerkende goue blomkroon gedra, met bye wat zoem en voëls, soos vinke, wat in die takke begin nesmaak het. Dit is tans die enigste soetdoringboom in die hele aftreeoord.
Vir die skrywer roep die verhaal van die boom ook ’n geestelike gedagte op: soos die boom, wat as ’n ongewenste plant beskou is en tog oorleef het, herinner dit hom aan die koms van Jesus Christus, wat ook eens verwerp is.
Vandag werp die boom koel skaduwee oor die warm grond van die Klein Karoo en lyk dit asof dit nog baie jare sal voortleef. Met tyd kan sy sade dalk nuwe boompies laat groei, en eendag mag sy hout selfs die gloeiende kole vir ’n braaivleisvuur lewer.
Waarlik – nog ’n doringboompie langs die een waarvan Totius geskryf het. (ELIAS OLIVIER)
Lesersverhaal: Die verhaal van ’n Doringboompie
