
Lavern Biljohn, persoonlike assistent in die burgemeesterskantoor op Oudtshoorn, wys een van die maskers wat almal wat ’n kaartjie vir die bal koop, gratis sal ontvang! Foto: Liesel le Roux
Burgemeester reik hand uit na diegene in nood
Deur Liesel le Roux
MET die maskerbal wat op Vrydag, 17 Maart, op Oudtshoorn plaasvind, kan elke persoon wat ’n kaartjie koop, ’n bydrae lewer tot die nood wat tans in die Groter Oudtshoorn onder vroue en kinders bestaan.
Aan die woord is die Groter Oudtshoorn se burgemeester, Colan Sylvester, wat die maskerbal geïniseer het. Sylvester sê die munisipaliteit hoop om R100 000 met die maskerbal in te samel.
Sylvester het inwoners die week versoek om betrokke te raak en kaartjies te koop.
“Daar is ’n groot maatskaplike nood in die Groter Oudtshoorn. Almal weet van die toename in straatkinders en haweloses. As oud-onderwyser het ek ’n baie sagte plek vir kinders en om hulle by te staan. Die skuiling vir mishandelde vroue, Malibongwe, bestaan nie meer nie en daar is ’n groot behoefte dat vroue gehelp moet word.”
Hy sê die munisipaliteit wil graag hande vat met die gemeenskap om deur die opbrengs van die maskerbal ’n verskil te maak aan die nood van vroue en kinders.
“Uit ’n geestelike oogpunt is dit vir elke Christen ook ’n opdrag om om te sien na die weduwees en wese. Hoe suksesvol ons is, is ’n ope vraag.”
Sylvester sê hy is bemoedig deur baie positiewe gesprekke met die Departement Maatskaplike Ontwikkeling die laaste aantal maande op grond waarvan die munisipaliteit drie van sy geboue vir haweloses beskikbaar stel wat die departement as skuilings kan inrig.
• Kaartjieverkope vir dié eerste Burgemeestersbal oortref tans verwagtinge, maar daar is nog heelwat kaartjies beskikbaar.
Kaartjies kan gekoop word by die kassiere by die Burgersentrum of deur ’n elektroniese inbetaling by Absa Oudtshoorn, takkode 632005, rekeningnaam: Oudtshoorn Munisipaliteit, rekening- nommer: 408 537 2149. Gebruik asb die verwysing: 100 104 818 076 met die elektroniese betaling. Stuur daarna ’n bewys van betaling aan aurelia@oudtmun.gov.za. Kaartjies sal afgelewer word. Meld asb u naam en adres op die e-pos.
Kaartjies kos R150 per persoon en R2 000 per tafel vir besighede. Die funksie begin om 18:30 vir 19:00 in die Banketsaal by die munisipaliteit.
’n Gelukkige trekking van kaartjienommers tydens die maskerbal beloof groot verrassings vir diegene wat dit gaan wen.