Meer as 30 sypaadjies en strate opgegradeer

Dit is tans bedrywig in Oudtshoorn se strate waar kontrakteurs besig is om gate te grawe vir die lê van veselkabel, maar die Oudts­hoorn Munisipaliteit se werkers ook vandees­maand werk aan die opgradering van paaie, strate en sypaadjies, soos bo in Brownstraat. Onder is van die werk sigbaar wat al in St Johnstraat in die omgewing van die middedorp gedoen is. Foto’s verskaf

MEER as 30 paaie, strate en sypaadjies in die Groter Oudtshoorn word tans deur die tegniese dienste-afdeling van die munisipaliteit opgegradeer of herstel.

Dié opgraderingsprogram het op 2 Maart afgeskop en sal na verwagting op 22 Maart afgehandel wees.

Die rehabilitasie van strate, paaie en sypaadjies behels onder meer die lap of herseël van paaie en strate, die herstel van randstene, die lê van ’n nuwe laag op party paaie of strate, of afskraap- en opvul­lingswerk op ander plekke.

Strate asook sypaadjies in Oudtshoorn se middedorp, Oudts­hoorn-Noord, Bridgton, Toekoms­rus, Bongolethu en Wesbank is by die projek inge­sluit.
Van die werk sal saans in van die besiger strate gedoen word wanneer die verkeersvloei in die betrokke strate minder is.

Paaie, strate en sypaadjies of dele daarvan waar van die werk die maand gedoen word, is die volgende:

Bloem-, Vrede-, Condor-, Rand-, Jubilee-, Kloof-, Badenhorst-, Loop-, Adderley- en Brownstraat, Twaalfde Laan (Bongolethu), Willowstraat, Berginsypaadjie, Park-, Jan van Riebeeck- en Zebraweg, Petunialaan, provinsiale paaie, Rade- meyerweg, St George-, St John- en Olivierstraat, Tweede Laan, Bad- en Gillisstraat asook Johnsonsingel. (Deur Liesel le Roux)