DAAR is altyd twee (of meer) kante van ’n storie. Dit is veral duidelik as die kwessie van langer of korter rye by die Oudtshoorn Verkeersdepartement die onderwerp van bespreking is.
Lede van ons personeel wat die laaste tyd vir die hernuwing van ’n rybewys of ’n voertuiglisensie moes gaan toustaan, het onderskeidelik drie ure en vyf ure gewag. Een van ons egter wat betyds aanlyn aansoek gedoen het vir die hernuwing van ’n voertuiglisensie op die webblad https:// online.natis.gov.za/#/ kon later net die lisensie sonder ’n toustanery gaan afhaal.
Hernuwings vir voertuiglisensies op die aanlyn-webblad is egter net beskikbaar vir lisensies twee maande voordat dit gaan verval en die 21 dae-grasieperiode daarna.
Daar is verskeie redes vir die lang toue
Die Hoorn het die afgelope weke navrae van inwoners gekry oor die lang ure wat mense buite wag en vrae waarom die diens by een van die toue soms stadiger is as by die ander. Die munisipaliteit het op navraag die volgende inligting verstrek:
• Net twee personeellede van die verkeersdepartement mag ingevolge voorgeskrewe Covid-regulasies by die toonbank werk – dus mag net twee klante op ’n keer gehelp word.
Meer personeel sal eers weer mag ontplooi word wanneer die regulasies opgehef word.
• Daar is baie mense van buurdorpe wat eerder op Oudtshoorn kom toustaan, omdat dit hier baie vinniger gaan as in hul tuisdorpe.
Geen verkeersdepartement mag weier om iemand van ’n ander dorp te bedien nie.
• Mense is geneig om te wag vir die laaste deel van die maand – wanneer voertuiglisensies verval, blykbaar veral vanaf die 22ste van die maand.
Die munisipaliteit het ’n beroep op die publiek gedoen om nie te wag tot op die laaste dae om hulle sake af te handel nie.
• Daar word so ver moontlik gepoog om handelaars van die ander lede van die publiek te skei om die situasie te vergemaklik.
• Volgens Die Hoorn se ervaring gee die natis-stelsel, wat landwyd gebruik moet word vir lisensies, ook nogal dikwels probleme en wanneer dit van lyn af gaan, staan die hele land se uitreiking van lisensies tydelik stil. Dit is wat gebeur het die dag toe een van ons personeellede vyf ure lank moes wag. Toe die stelsel tydelik af was, kon die betrokke personeellid ook nie haar werk doen nie, want sy kon nie dié stelsel gebruik nie.
Gaan aanlyn!
Om lang toue vir die hernuwing van voertuig-lisensies te vermy, is die webblad die antwoord (https://online.natis.gov.za/#/). Die lisensie kan ook aanlyn betaal word.
Mense kan hul voertuiglisensies binne drie dae daarna by die verkeersdepartement gaan afhaal sonder om in ’n tou te staan.
Mense wat die vensterperiode van 21 dae misloop, kan die verkeersdepartement met die voertuig se registrasienommer kontak. Hulle sal die uitstaande bedrag aan jou verskaf wat jy aanlyn kan betaal. Dan hoef jy ook nie in ’n tou te gaan staan nie.
Diegene wat aansoek doen om ’n rybewys of hernuwing daarvan, kan tyd spaar deur ’n oogtoets vooraf by ’n geregistreerde oogkundige te doen. (Deur Liesel le Roux)
Mag so jou wag korter buite die verkeersdepartement
Korter of langer toue wat vinnig of stadig beweeg, mag op jou buite die Oudtshoorn Verkeersdepartement wag. Die foto is omstreeks 12:22 op 4 Maart geneem. Foto: Schalk le Roux