Marissa is Fezekile se trots

Marissa Faku (tweede van regs) saam met van haar klasmaats wat die matriek­eksamen van 2018 geslaag het.
Foto: Garnett Wicomb

Deur Garnett Wicomb
DIE doelwit was 80% maar sy is tevrede met die skool se slaagsyfer van 72,7%, min of meer dieselfde as in 2017. Dit was die reaksie van die skoolhoof van die Hoërskool Fezekile in Bongolethu, Thembeka Mnguni, toe sy die suksesvolle matrikulante met die bekendmaking van die matriekuitslae geluk ge­wens het met hul prestasies.

Haar boodskap aan diegene wat nie suksesvol was nie, is dat dit nie die einde van die pad is nie.

“Daar is hereksamens wat geskryf kan word, terwyl diegene wat meen dat daar iewers ’n fout ingesluip het, hul vraestalle kan laat hernasien.”

Mnguni het haar personeel geloof vir hul harde werk in 2018 en die ekstra myl wat hulle met leerders gestap het.

• Marissa Faku was met ’n gemiddeld van 78,2% die skool se topmatrikulant met onderskeidings in Afrikaans, Engels,

Besigheidsstudies en Ekonomie. Sy studeer vanjaar B Com Rekeningkunde aan die Universiteit Wes-Kaapland en het haar dank uitgespreek teenoor almal wat haar verlede jaar ondersteun het.

Marissa was in haar matriekjaar tweede in ’n opstelwedstryd vir leerders van Wes-Kaapse skole. Sy moes hiervoor haar opstel oor die negatiewe invloed van Suid-Afrika se rommelstatus op die ekonomie met behulp van ’n Power Point-aanbie-ding in

Kaapstad aanbied. Sy was ook verlede jaar derde in die Eden Sentraal Karoo Onderwysdistrik se jaarlikse Onderwêreld-lees-en-dink-kompetisie en ook derde in die eindronde in Kaapstad.