Gimmies is trots op matrieks se 100%-slaagsyfer

Helette du Plessis.

Jané Venter.

Mia O’Kelly.

Deur Angelique Erasmus
BY Langenhoven Gimnasium was daar groot vreugde toe die skool se 2018-matrieks weer ’n 100%-slaagsyfer behaal het.
Dit is die vyfde keer in vyf jaar dat Gimmies se matrieks dié prestasie behaal.

Stephanus Potgieter, skoolhoof, sê die goeie prestasie van die matrieks is te danke aan ’n daaglikse spanpoging van die ouers, leerders en onderwysers – die drie onderwysvennote. Met elk­een se insette en samewerking, kan leerders maksimaal presteer om hulle gereed te kry vir die grootmenswêreld. Ons is opgewonde oor die prag­tige leerders van ons skool.”

So gesels Langenhoven Gimnasium se tweede, derde en vierde toppresteerders oor hul prestasies:

• Helette du Plessis, wat tweede was met ’n gemiddeld van 88,9% en sewe onderskeidings, is ’n De Ruster wat in die week in die koshuis ge­woon het.

Helette, ’n oud-leerder van die Laerskool Wesbank, sê haar gunsteling-skoolvak was lewens­we­tenskappe. Sy studeer vanjaar

BSc Agri (plant- en grondwetenskappe) aan die Universiteit van Stellenbosch (US) en sê sy voel sterk oor herwinning en om die aarde te bewaar.

Helette was op skool kaptein van die eerste hokkiespan, en vertel sy is baie lief vir musiek en die natuur.
Wat gaan sy van Oudtshoorn mis? Haar vriende, antwoord sy, en die wonderlike koffiewinkels waar hul gereeld saam gekuier het!

• Jané Venter, wat ook haar skoolloopbaan as Wesbanker begin het, studeer vanjaar optometrie aan die Vrystaatse Universiteit.

Sy was derde onder haar skool se toptien met ’n gemiddeld van 88,4% en ses onderskeidings.

Sy was ’n veelsydige uitblinker op hoërskool wat in die eerste hokkiespan gespeel het en ook die hoogste punte behaal het in lewensoriëntering, lewenswetenskappe en fisiese wetenskappe.

Vir Jané is respek teenoor ander en vriendelik­heid in oorvloed baie belangrik.

En, ja, sy gaan skool mis, veral die sportdae en die geesvang, sê sy.

• Mia O’ Kelly, vierde op Gim se toptien-lys, is van Willowmore en het in die week in die skool­koshuis gewoon. Sy spog met ’n gemiddeld van 87,4% en ses onderskeidings.

Mia was verlede jaar hoofmeisie van haar koshuis en het ook ’n trofee ontvang as veelsydigste graad 12-leerder.

Dié presteerder wie se skooldae by die Laerskool Rietbron begin het, vertel sy was dol op besigheidstudies en rekeningkunde.

“Ek gaan eers ’n paar loopbaanopsies uittoets voordat ek finaal besluit wat ek graag wil doen, maar ek gaan beslis B Com of bestuursrigting studeer,” sê sy.

Sy glo eerlikheid en nederigheid is belangrike waardes. Sy is ook passievol oor dierekwessies, onder meer renosterstropery.

Soos baie ander matrieks, sê sy sy gaan glad nie die Oudtshoorn-hitte mis nie, maar wel die mense wat haar altyd so tuis hier laat voel het.