Die drie topmatrieks van 2018 van al nege hoërskole in die Groter Oudtshoorn is gister deur Oudtshoorn se burgemeester, Colan Sylvester, vir hul uitstekende punte vereer. Elke leerder het ’n sertifikaat van erkenning ontvang wat deur Sylvester oorhandig is. Die onderburgemeester, Noluthando Mwati, die speaker, Julia le Roux, asook al nege skole se skoolhoofde of verteenwoordigers het die geleentheid bygewoon. Van die leerders was egter reeds by universiteite waar hul studeer en kon nie die geleentheid bywoon nie. Foto Angelique Erasmus
Deur Garnett Wicomb
DIE slaagpersentasie van Bridgton Senior Sekondêr (BSS) in Oudtshoorn se matrikulante toon ’n opwaartse kurwe van 13%, danksy spesiale programme wat die skool deur die jaar aangebied het.
So sê die skoolhoof, Kelvin Ellis, wat hoog in sy skik is met die 2018-slaagsyfer van 83% teenoor die 70% van die vorige jaar.
Van die 218 kandidate wat die eksamen afgelê het, het 69 universiteitsvrystellings ontvang terwyl die skool ook vanjaar spog met twee A-kandidate.
Die twee slimkoppe is Zoë Roodtman wat met ’n persentasie van 80,5% spog en Amber Witbooi wat spog met 80,1%. Zoë studeer vanjaar chemiese ingenieurswese aan die Universiteit van Kaapstad terwyl Amber beoog om LLB aan die Universiteit Wes-Kaapland te studeer.