Briewe

Duur plakker vir gestremdes

Omdat die datum op my plakker vir gestremdes wat op my motor-voorruit geplak word, in Desember verval het, moes ek by die verkeersdepartement gaan aansoek doen vir ’n nuwe een.

Hulle het my ’n vorm gegee wat deur my dokter voltooi en geteken moes word. Daarop moes hy ook aandui of dit permanent of tot volgende jaar sal wees. ’n Normale konsultasiefooi vir so ’n besoek beloop R350. Dit is heelte­mal aanvaarbaar, maar wat ek nie verstaan nie, is dat hoewel hy die ge­- stremd­heid aanteken as permanent, die plakker net vir die volgende jaar uitgereik word. Hierdie doktersbesoek is dus ’n jaarlikse uitgawe.

Uiteindelik kon ek die plakker gaan kry by die verkeersdepartement, maar nie voordat ek R228 daarvoor moes betaal nie. Dit beskou ek as onredelik en uitbuiting van gestremde persone in Oudtshoorn. Ons betaal dus eintlik vir ons parkering, terwyl dit gratis is vir alle ander persone in die dorp – of dit is ’n straf omdat ons gestremd is. Dit is verder onstellend dat alhoewel ons vir ons parkering betaal, daar nie genoeg parkering vir gestremdes is nie. In Hoogstraat is slegte twee en in Kerkstraat slegs een oor die algemeen staan daar altyd voertuie sonder ’n gestremde plakker geparkeer. Wanneer jy betaal vir ’n diens soos in hierdie geval, moet die diensverskaffer dit beskikbaar stel.

Ek gaan moeite doen om die opname van die raadsvergadering waar die besluit geneem is, te bekom om beter te verstaan hoe ons raadslede se koppe werk en waarom hulle so hard op die gestremde persone is. So ’n plakker kon beslis nie meer as R5 kos nie.

Ek gaan ook werk daarvan maak om die gestremde persone met voertuie te mobiliseer sodat ons inskakel by die vereniging vir gestremdes en beding vir verteenwoordiging op die raad om te verseker dat ons met die nodige mens­waardigheid behandel word.

Dit is nou weer die tyd dat politieke partye aan ons deure gaan kom klop vir stemme. Hulle moet verseker weet dat ons hulle gaan konfronteer met die behandeling van ge­stremdes in die dorp.
– Japie Coetzee, Oudtshoorn

Munisipaliteit reageer:

Die Oudtshoorn Munisipaliteit het as volg op die brief oor die plakkers vir gestremdes gereageer:
Enige raad kan sy tariewe bepaal soos wat die raad dit goed ag. Dit word deur die betrokke raad goedgekeur en in die begroting vervat.

Dit koste vir ’n motorplakker vir liggaamlik gestremdheid is vir die huidige boekjaar R228 en sal in die nuwe boekjaar weer opwaarts aangepas word.

Dit is ongelukkig net geldig vir ’n jaar. Dit het al baie gebeur dat mense wat “permanent gestrem” verklaar is, wel om die een of ander rede herstel het of die permanente ongeskiktheid nie werklik permanent was nie. ’n Persoon aan wie ’n plakker vir liggaamlike ge­stremdheid uitgereik is, word vryge­stel van ander parkerings­ver­eistes, betaal nie vir ander parkering nie en is ook nie beperk ten opsigte van par­keertye nie. Oudtshoorn het in hierdie stadium nie parkeermeters nie, maar die beperkte parkeertye moet, waar van krag, eer-biedig word, anders word hulle beboet, terwyl dit nie die geval is met persone met liggaamlik gestremde parkeerplakkers/permitte nie.

Oudtshoorn is nie al munisipaliteit wat ’n tarief hef vir liggaamlik ge­strem­de persone nie. U kan gerus by al die munisipaliteite rondom ons navrae doen oor dié aangeleentheid en sal vind dat daar tariewe hoër as Oudtshoorn se huidige tarief gehef word.
Daar is ’n openbare deelnameproses met die opstel van begrotings en die publiek is welkom om daar insette te lewer.

Water vir Beaufort-Wes

Ludolf Schoeman, sektor-voorsitter SA Weermagvereniging, het water wat deur Oudtshoorniete ingesamel is, aan die Rotariërs van Beaufort-Wes en die DBV van Beaufort-Wes oorhandig (sien foto).
Ons bedank hiermee elke persoon en besigheid asook die burgemeester en raadslede wat ons gehelp het om water in te samel vir Beaufort-Wes.
– Jaco Steenberg, Oudtshoorn

Water is lewe

In die laaste maand van 2018 het ek ’n interessante waarneming oor die waterkrisis op ons dorp gemaak, veral op sosiale media.

Mense aanvaar water as iets vanselfspre­kend.

Jy draai die kraan oop en woeps!, daar is altyd water.

Wat as jy een oggend die kraan oopdraai en daar loop niks uit nie?

Dit is ’n realiteit wat ons moet besef kan gebeur.

Beurtwater kan ’n realiteit word. Waterrantsoenering kan kom.

Om in rye te staan vir jou daaglikse kwota water is iets wat in ons streek kan gebeur.

Prins Albert en Beaufort-Wes is reeds daar.

Wat gaan ons doen as hierdie dinge gebeur?

Kom ons begin daadwerklik beplan vir môre.
Water is lewe.
– Jaco Steenberg, Oudtshoorn

Rassehaat – nugterheid wen uiteindelik

Die uiters traumatiese psigologiese gevol­ge van naakte rassisme teenoor SAPD Kollege-personeel op 7 November 2016 het uiteindelik ’n nuwe wending geneem: ’n mate van nugterheid en regverdigheid met die skuldigbevinding en summiere ontslag uit die polisiediens van genl maj Malebe-Thema.

Malebe-Thema het op daardie dag in November 2016 tydens ’n rassehaat-insident ’n groep wit personeellede onder meer verontmenslikend op ’n verhoog be­veel. Daartydens het sy, ten aanskoue van die handeklappende, spottende en laggen­de studente (meestal swart rekrute), grow­we rassis­tiese uitsprake teenoor hul­le ge­maak, hulle on­mens­waardig verneder, psi­gologies gemartel, ge­dreig en oog­lo­pend hul menseregte geskend.

Dié onverdraagsaamheid teenoor senior polisiepersoneel het sy uitsluitlik gedoen op grond van stereotipering en ras.
Vanuit ons land se verlede van ras­se­diskriminasie en die gepaardgaande pyn en onreg, behoort ons as nasie juis intens bewus te wees van die gevare van hierdie soort denkrigting waarby ’n besondere kultuurgroep of ras, ongeag op watter gronde, hom die reg toeëien om ander kultuurgroepe te oorheers.

Daar is nog baie foute in ons samele­wing en instellings waarby demo­grafie nog beslis verbeter kan word. In ons strewe na regstelling hiervan moet ons egter volwassenheid en redelikheid openbaar, waarby ons ’n regverdige, har­mo­nieuse en nie-rasgebaseerde samele­wing nastrewe en ons geen haat­dra­endheid handhaaf of persoonlike pyn en ver­ne­dering aanrig aan ons međe-burgers nie.

Malebe-Thema het vir ons as gemeenskap die vernietigende boosheid van rou rassisme getoon, waarby haar dissiplinêre skuldigbevinding en onmiddellike ont­slag uit haar werk die mees vanpaste sank­sie is, gegewe die werksverwante psi­gologiese skade wat haar gedrag on­ver­diend aan hoogs professionele poli­sie­lede tot gevolg gehad het.

My wens is dat dié nuwe wending in die verloop van gebeure sedert 7 November 2016 sal help met afsluiting en ’n mate van genesing vir die betrokke lede.
– Clifford van Wyk, psigiater, Oudts­hoorn

Strenger oor water

Ek rig die skrywe aan die munisipaliteit en my vraag is: Wat help dit dat ’n bohaai gemaak word oor Oudtshoorn wat in ’n droogtestreek val, maar steeds word inwoners toegelaat om emmers en emmers water te tap om hulle tuine nat te gooi?

My tweede vraag: Wat gaan gebeur as ons geen reën kry nie, die damme droog op en krane loop leeg? Die waterbeper­kings maak vir my geen sin nie, want daar is selfs mense wat die vermetelheid het (of is dit onnoselheid?) om hulle gras met die tuinslang nat te spuit.

Ek doen regtig ’n beroep op ons munisipaliteit om baie strenger te wees en nie toe te laat dat in­wo­ners hul tuine met emmers nat dra nie.

My geboorteplek en grootworddorp is Oudts­hoorn en op ons plaas het ons baie droogtes ondervind en gelukkig oorleef. Ons is van kleins af geleer om water te bespaar en nie te mors nie.

Ek hoop regtig dat die erns van die situasie begryp sal word.

Naskrif: Ek gebruik net my stortwater om bome nat te gooi.
– Stephanie Fourie, Oudtshoorn

Spaar nou water

Ongelooflik dat in hierdie tyd van erge droogte, hitte en waterbeperkings daar nog mense is wat hul grasperke natspuit! Betaal dan maar die boete! Maar jy wat dit met ’n glimlag betaal – sal jou boete water in jou kraan gee as dit opdroog?

Wat van hulle wat nie die boete kan betaal nie, hulle gras en blommetjies moet maar verdroog en jou tuin is ’n lushof! Dit is so droog dat om nat te maak, te spuit, emmers te gebruik, sal niks help nie, veral nie in hierdie hitte nie. Jou tuin lyk mooi en myne moet maar verdroog, want al wat ons gaan help, is reën van Bo!

As jy op Oudtshoorn en veral op Rooiheuwel grootgeword het, weet jy wat droogte is. Dan weet jy van water spaar; nie eers water vir’n hoender nie.

Onthou jy die slote met gebarste modder as die Kammanasiedam leegloop, die groen slyk op die modderige bodem?

Ons as gesin van sewe kon net een maal per week bad, almal in dieselfde water. Soggens vee jy maar net met ’n nat lap af, maar vuil was ons nooit nie. Daar was nie water vir blomme nie, want my pa het gesê jy kan nie blomme eet nie.

So kan ek aanhou met baie stories en swaarkry in droog­tetye, maar mense van Oudts­hoorn kry dit in jul verstand dat water nou spaarsamig gebruik moet word.
– Plaaskind, Oudtshoorn