■ Kom lyding van God? Nee, nee, nee. God beplan nie motorongelukke, kanker en enige ander tragedies nie. Hy haat selfs die dood. As die dinge ons tref, huil God saam met ons. Dit is ’n voortsetting van die sondeverskeurde wêreld waarin ons woon.
■ Ek en my vrou vlieg taamlik gereeld van George na OR Tambo. Ons vlieg met die verskillende rederye. Lugwaardinne is baie vriendelik en behulpsaam. Op 18 Desember 2018 vlieg ons met Airlink,Vlug SA8514 direk van George na King Sha-ka Durban. Die vlug was maar stamperig agv weerstoestande, maar die lugwaardin, Janina du Toit, het dit een groot fees gemaak. Wat ’n pragtige mens, met die mooiste geaardheid en glimlag. Sy het met almal op die vlug ’n geselsie aangeknoop terwyl sy ons bedien het. ’n Ware juweel. Airlink, pas haar op, voor die ander haar wegrokkel. Dankie, Janina! Sy kom van PE. Johan Coetzee. Oudtshoorn.
■ Die spoedwalle in Bridgton se strate word verwelkom, maar nie die wat net voor Kersfees in baie strate aangebring is nie. Duidelik is dit sonder enige spesifikasies, want sommige is so hoog dat jou motor se enjin wil uitval wanneer jy daaroor ry, en ander is weer so laag dat jy nie eens daarvan bewus is wanneer jy daaroor ry nie. Japie Coetzee
■ Liewe leser, sal die Here aan ons versoek vir rëen gehoor gee? Nee, nee, nee. Hoekom nie? Ons gehoorsaam nie sy gebooie nie. Kyk maar rondom u. Dis so hartseer om Sondae te sien hoe ons sy heilige dag ongehoorsaam. Drankwinkels en ander besighede doen sake, daar word water vir tuine aangery asof daar nie ’n ander dag is om dit te doen nie. Dit sal nie rëen in ons dorp voordat ons nie hand in eie boesem steek nie. Baie bekommerde Oudtshoorn-inwoner.
■ Ek is Jan Booysen, ’n munisipale werker. Dis vir my onmoontlik om te verstaan. Ons werkers se agterstallige waterrekenings word verhaal van ons bonusse. R8 760 van my bonus afgetrek. Dis verskriklik.

Morne Nel, oud-Struisie (1991) het sy meestersgraad in teologie deur Unisa verwerf met die skripsie Information Tecnology – The New Means of Communication for the Church in Africa and South Africa. Nel het na sy diensplig sy BD Honneurs in teologie voltooi en was drie jaar leraar by die NG Kerk Durbanville, toe 12 jaar streekbestuurder van Media24 koerante en geestelike boeke. Hy is tans ’n tentmaker in George en begin vanjaar met sy doktorsgraad in teologie deur die Universiteit Stellenbosch. Nel sê hy onthou sy alma mater met trots en liefde, en het leerders aangemoedig om altyd na die sterre te reik.