Feestelikheid, nostalgie by feesbekendstelling

DIE program vir vanjaar se 25ste KKNK is Maandagaand op feestelike wyse by Olivanti Country Manor op die Rooiheuwelpad buite Oudtshoorn bekend gestel. Saam met die feestelikheid was daar egter ook heelwat nostalgie toe twee swaargewigte wat by die ontstaan van die fees betrokke was, die ini­si­eerder Nic Barrow en Pieter Fourie, die fees se eerste uitvoe­rende hoof, oor die begindae van dié baanbreker-kuns­tefees gesels het.

Hy is veral dankbaar dat dit ’n fees is vir alle Afrikaanses en dat dit alle mense in die land insluit, het Fourie in ’n gesprek met die waarnemende uitvoerende hoof van die fees, Hugo Theart, gesê.

Barrow het op sy beurt vertel hoe die gedagte vir ’n Afrikaanse kunstefees by hom ontstaan het toe hy en sy gesin die Grahamstad Nasionale Kunstefees besoek het.

Hy het al die stigterslede van die fees vir hul bydraes en geesdrif bedank. Stigterslede wat die aand bygewoon was Rosie Schoeman, Danie Bes­ter, Cyril Clarke en Garnett Wi­comb.

• Vanjaar se fees vind van 21 tot 27 Maart plaas en kaartjies is vanaf Vrydag (18 Januarie) by Computicket en Shoprite/Checkers en House & Home te koop. Besprekings kan aanlyn by www.computicket.com gedoen word of deur 0861 915 8000 te skakel.

Die opwindende feesprogram is aanlyn beskikbaar by www.kknk.co.za, terwyl die ge­drukte programboek in Februarie beskikbaar sal wees.

• ’n Selfoontoepassing (app) waar­mee mense kaartjies kan bespreek en ingelig kan word oor spesiale aanbie­dinge en die jongste feesnuus, kan vanjaar die eerste keer op jou selfoon af­gelaai word. Laai dit af by die Apple App Store of Google Play as KKNK25.

• Theart het met die bekendstelling van die program gesê daar is hard ge­werk om ’n spesiale program vir ’n spesiale fees saam te stel.

“Vir die 25ste verjaardag van KKNK is ’n program saam­gestel wat nie net opwindende nuwe produksies bied nie, maar ook ’n bestekopname is van die bydrae van die fees tot die kunste.

Die KKNK het in 1995 sy buiging gemaak as die heel eerste nasionale Afrikaanse kunstefees. Na 25 jaar dien dit steeds Afrikaanse gehore, maar dit is ook geanker in die breër Suid-Afrikaanse kunstegemeenskap, met die bonus dat daar jaarliks ook internasionale betrokkenheid is.”

Die vlagskipproduksie vir vanjaar se fees is die eietydse drama Koningin Lear, geskoei op Shakespeare se King Lear, met Marthinus Basson as regisseur en ontwerper, Antoinette Kellermann in die rol van die magtige sake­vrou, en met onder ander Anna-Mart van der Merwe en Rolanda Marais saam met haar op die verhoog.

Ander hoogtepunte wat vanjaar se fees bring, is ’n terugblik op die Suid-Afrikaanse geskiedenis met die première van Athol Fugard se Statements After an Arrest Under the Immorality Act, wat die eerste keer in 1972 op­gevoer is. Uit die klassieke stal maak Katvoet, ’n verwerking van Cat on a Hot Tin Roof, ’n draai by die KKNK”. In die rolverdeling is onder andere Marius Weyers, Ma­rion Holm, Tinarie van Wyk Loots en Albert Pretorius.

Amanda Strydom, wat nog met elke fees op Oudtshoorn was, vier haar 40ste jaar in die bedryf met haar de­buut­produksie Amanda Strydom – Miss Mandy.

Vir die gesin is daar weer spesiaal ’n nuwe produksie geskep, Jakkals en Wolf Onbeperk, met niemand anders nie as Riaan Cruywagen in die rolverdeling.

Op die musiekfront word die verjaardagvieringe voortgesit met onder andere optredes deur Koos Kombuis en lede van die destydse Cutt Glas soos Anna Davel en Karen Meiring, nuwe produksies met Karen Zoid, Coenie de Villiers, Jo Black asook CH2 en vele meer.

In die Kuierbuurt vind ses aandkonserte plaas met kunstenaars soos Karen Zoid, Jo Black, Refentse, Robbie Wessels, Corlea Botha, Craig Lucas, Early B, Bobby van Jaarsveld, Leah, Demi-Lee, Juanita du Plessis, Theuns Jordaan asook die Soweto String Quartet.

Die visuele kunsuitstallings bring vanjaar bykans al die feeskunskunstenaars van die afgelope 24 jaar terug, asook ’n uitstalling wat ’n ode sal wees aan Oudtshoorn en die Klein Karoo.