Jy het nie tyd om te dink nie!

Johan Strasheim

Tussen ouens wat vliegtuie vlieg, is daar altyd ’n gepratery oor die sogenaamde “wheels ups”. Dit is wanneer iemand ’n vliegtuig land sonder dat die “wiele” uitgesit is.

Dit is darem nie iets wat baie gebeur nie, maar iets wat tog van tyd tot tyd gebeur. Baiemaal is daar die een of ander meganiese fout wat die wiele verhoed om uitgelaat te word soos ’n hi­droliese lek of ’n meganiese skakel wat gebreek het of wat ookal. Dan is die loods uiteindelik genoodsaak om die vliegtuig op sy maag te gaan land. Die skade aan so ’n vliegtuig is substansieel, maar word binne perke gehou wanneer ’n noodlanding op ’n aanloopbaan gedoen word. Dan is daar eienaardig genoeg relatief min skade!

Dit is die onafwendbare “wheels up”-landings. Dan is daar die ander tipe, waar die loods net eenvoudig vergeet om die wiele uit te sit. Dit ge­beur ook en is maar altyd die uiteinde van ’n hele rits faktore – afwyking van die sogenaamde “checklist”, haas, oormatige selfvertroue, aandag wat afgelei word deur ’n siek of dronk passasier of iets wat verkeerd gaan in die kajuit en dan natuurlik sommer doodgewone wind­gatgeid – alles faktore wat die loods eenvoudig laat vergeet om die hef­boompie af te druk wat die wiele laat sak. (En natuurlik om ’n paar maal te kontroleer dat dit wel gebeur het!)

Wanneer daar hieroor gepraat word, spot die manne altyd daar is net twee tipes “pilots” – dié wat al ’n “wheels up” gedoen het en dié wat nog een gaan doen. Ongelukkig is daar ’n mate van waarheid hierin, al dink elkeen uit die “moet nog doen”-groep stilletjies: “Nee, daarvoor is ek te wakker”. Nou ja, die tyd sal leer. En dit doen. Glo my!

Ek en my vriend Dave (hy is ’n instrukteur) het natuurlik ’n nuwe dimensie hierby gevoeg: ’n “wheels up” tydens opstyging by Wonderboom Lughawe noord van Pretoria. Sowaar. Laat ek vertel…

Ek en Dave vat die dag ’n Piper Seneca vir ’n “spin” en ’n toetsvlug na ’n diens – waar daar ook toevallig ge-werk is aan van die bedrading wat te make het met die onderstel. Alles tydens die “pre-flight”-toetse is absolute roetine. Alles lyk pragtig met al wat ’n vlieginstrument is se naalde op hulle plekke, lieflik in die groen. Ons word geklaar om op te styg op aanloopbaan 29 en alles loop mooi. Ek gee geleidelik krag en ons versnel sommer gou. Dave het al baie saam met my gevlieg en hy sit rustig agteroor en kyk na alles terwyl ek die vliegwerk doen.

Ek ken die vliegtuig goed en voel in ’n stadium – heeltemal te gou – dat ons nou wil vlieg. Met dit gaan die neus effens te vinnig op en ek druk dit instinkmatig effens af sodat die neuswiel op die grond kan bly – min wetende – dat die neuswiel nie meer daar is nie. Dit het reeds begin intrek! Terselfdertyd hoor ek hoe beide die “props” liggies aan die aanloopbaan se teer raak. RRRRAPP! Dit is nie ’n klank wat jy ooit wil hoor nie. Nou werk jou brein oortyd en skop instink wat die resultaat van deeglike opleiding is, in. Moet ons probeer vlieg met skade aan die skroewe of moet ons gaan sit terwyl ons nog in ’n relatiewe veilige omgewing en nog op die aanloopbaan is!

Ek trek toe onmiddelik die krag terug en skreeu vir Dave dat ons die “take-off abort”. Met dit val die vliegtuig plat op sy pens en gly ons onbeheerd op die aanloopbaan af met die mees onaardse lawaai. Wat voel soos ’n ewigheid later kom ons tot stilstand met die ligte reuk van vuurwarm aluminium wat die kajuit vul. Ek roep gou die beheertoring om te sê ons is ongedeerd, maar voor ek kan klaarmaak, klim Dave omtrent bo-oor my om die elektriese hoofska­kelaar af te sit. Hy maak inderhaas die deur oop en begin uitklim. Ek kon nie help om te lag toe hy homself omtrent verstrengel en ophang aan die oorfone op sy kop waarvan die draad nog ingeprop was nie.

Daar staan ons toe in die gras langs die vliegtuig en luister hoe die brand­weer al skreeuend aangejaag kom en ’n pynlike klomp prosedures by Burgerlugvaart inlui. Daar is uiteindelik be­paal dat ’n los draad die moles tot gevolg gehad het, en ons rekords is darem “skoon” gelaat!

Wat staan uit van hierdie ervaring? Dit is die duurste vyf sekondes wat ek in my lewe nog ervaar het. Dankie tog vir versekering!