14 Struisies spog met A-gemiddeldes!

Kabelo Motubatse.

JG Marais.

Keelin Muller.

Deur Angelique Erasmus
MET 14 leerders wat A-gemiddeldes behaal het, 17 leerders wat B-gemiddeldes behaal het en 98 van die 126 2018-matrieks wat universiteitsvry­stelling verwerf het, is die Hoërskool Oudtshoorn baie trots op hul 2018-matriekuitslae.

“Struisieland is verseker die tuiste waar gelukkige leerders suksesvol is,” sê Gerrit Rudolph, waarnemende hoof van die skool.

Rudolph sê sy boodskap aan die skool se oud-leerders en ook die huidige en toekomstige Strui­sies is om altyd met ’n gesindheid van openheid dinge te evalueer.

Hy stel dit so: “Have a mind that is open to everything and attached to nothing, that is the recipe for success and inner peace. Success is more enjoyable when it is achieved by ‘us’ and not ‘I’; one team, one goal, together everyone achieves more.”

Die Hoorn het ook met die skool se tweede, derde en vierde toppresteerders gaan gesels oor hul prestasies en toekomsplanne:
• Kabelo Motubatse wat die tweede hoogste gemiddeld van 87% met sewe onderskeidings behaal het, is oorspronklik vanaf Pretoria, waar haar ouers steeds woon. Sy het tydens haar skooljare in die koshuis op Oudtshoorn gewoon.

Kabelo, ’n oud-leerder van die Laerskool van Reede, studeer vanjaar medies aan die Tygerberg-kampus van die Universiteit van Stellenbosch (US).

Kabelo het groot drome vir die toekoms.

“Gender and human equality are two things which I feel very strongly about, and I dream of making adequate health care accessible to everyone in our country” sê sy. Geslagsgelykheid en gelykheid tussen mense is twee dinge waaroor ek baie sterk voel. Ek droom daarvan om ’n bydrae te lewer tot voldoende en toeganklike gesondheidsorg vir almal in ons land.

Haar gunstelingvak was wiskunde, maar dié slimkop was ook ’n kranige netbalspeler met ’n groot liefde vir musiek.

Kabelo sê sy weet sy gaan vanjaar haar vriende en haar gunsteling onderwysers mis, maar gelukkig is die dae van huiswerk iets van die verlede.

• Die Hoërskool Oudtshoorn se hoofseun vir 2018, JG Marais het rede om te glimlag. Met ’n gemiddeld van 86,86% en ses onderskeidings was hy in die onlangse matriekeksamen derde op die Struisies se top 10-lys.

Dié boorling van Oudtshoorn en oud-leerder van die Laerskool Wesbank studeer vanjaar Meganiese Ingenieurswese aan die US.

Hy vertel hy was op skool veral lief vir ingenieursgrafika en ontwerp en wiskunde en het vir die skool hokkie en krieket gespeel.

“Ek geniet dit om te draf, hou van houtwerk en is tans besig om te leer hoe om bonsaiboompies te kweek.”

Hy sê hy is ook ’n teeliefhebber en probeer graag nuwe soorte en geure.

“Dis vir my belangrik om altyd vriendelik te wees, en mense moet bereid wees om ander te help en moeite vir hul te doen”

En dit is ook hieroor dat hy graag eendag ’n uitvindsel sal wil maak of ontdekking sal wil doen wat die wêreld ten goede sal verander.

• Keelin Muller, ’n oud-leerder van die Foundation Christian School en Laerskool Van Reede, is vierde onder haar skool se toptien met ’n gemiddeld van 86,71% en sewe onderskeidings.

Sy vertel sy het al haar skoolvakke geniet, maar dat Duits, fisiese wetenskappe en lewenswetenskappe haar die naaste aan die hart gelê het.,

Gesondheid en fiksheid is vir haar baie belangrik, sê sy, veral om ’n gesonde verstand en liggaam te hê. Sy is egter ook baie lief vir tale en die uitvoe­rende kunste.

Keelin studeer vanjaar molekulêre biologie en biotegnologie aan die US.

Sy glo aan sterk waardes, wat uithouvermoë en ywer insluit, asook om ander in ag te neem en mense met respek te behandel.
Sy voel ook sterk oor die omgewing en natuur.

Sy droom van sukses in alles wat sy aanpak, om ’n gelukkige en positiewe invloed op ander te hê en haarself met positiewe mense te omring.

Sy wil graag ook ’n organisasie begin wat arm mense kan help.

Sy sê sy gaan die mense van Oudtshoorn die meeste mis, veral die vriendelike atmosfeer van ons klein dorp, en alles wat lekker naby aan mekaar is.

“Ek gaan egter glad nie die hope huiswerk, baie rëels en om altyd in rye te stap mis nie!” sê sy.