Zylia Marais en haar man, Schalk, in aksie. “Ek is opgewonde om Oudtshoorn te leer dans!” sê sy. Foto verskaf
“DANS is eintlik maar net soos stap, jy doen dit net op die maat van musiek,” sê Zylia Marais, eienaar en dansinstrukteur van Zylia’s Dance Studio wat 14 Januarie in Oudtshoorn geopen het.
Zylia, wat haar opleiding by een van die grootste internasionale dansorganisasies gehad het en die mees gevorderde diploma, naamlik die Master Examiners in Social Ballroom & Latin American, afgelê het, het 36 jaar ondervinding as dansinstruktrise.
“Hoewel dansafrigting my werk is, is my eintlike passie mense,” sê Zylia. Sy vertel hoe wonderlik dit is om te sien hoe mense se selfvertroue toeneem sodra hulle gemaklik raak om die wêreld van musiek en beweging bymekaar te bring.
Vir Zylia gaan dit nie soseer oor die vervolmaking van danspassies nie, maar oor al die fisieke en veral geestesvoordele wat dans inhou. “Dans bied soveel gesonde ontspanning” verduidelik sy.
Zylia bied individuele klasse aan net vir paartjies en vir alle ouderdomme.
Zylia, voorheen van Bellville en die laaste ses jaar in Mosselbaai, het gevind dat paartjies baie baat vind om danslesse as ’n stokperdjie saam te doen; soos ’n weeklikse “date night” met hope pret en plesier.
Die volgende danse word afgerig: Swing, Foxtrot, Slow Waltz, Tango (Ballroom) en die Latyns-Amerikaanse danse Rumba, Samba, Cha-Cha en Mambo.
Zylia gee ook les in langarmdans (die sogenaamde sokkie), boerewals, rock & roll en wil graag ’n lyndans-groep begin vir enkellopendes.
“Ek verwelkom alle ouderdomsgroepe en vaardigheidsvlakke. Indien iemand vir die eerste keer leer dans, is dit juis die ideale geleentheid om van die begin af die regte manier van dans aan te leer,” sê Zylia.
Lesse word weeksdae aangebied by Baron’s Palace se saal, h/v Hoog- en Hoopstraat.
Zylia kan gekontak word by 072 621 6701 of by e-pos zylia@telkomsa.net.