Raadslede sê ja vir 4%-verhoging

Deur Garnett Wicomb
DIE salarispakkette van Oudtshoorn se raadslede sal met 4% verhoog word indien ’n aanbeveling wat Maandag tydens ’n spesiale raadsvergadering aanvaar is, deur die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, goedgekeur word.

Die besluit is geneem op grond van die Wet op Vergoeding van Munisipale Amptenare (Wet 20 van 1998) ten opsigte van die hoogste kerf van salarisse, toelae en ander voordele vir lede van munisipale rade.

Die Oudtshoorn Munisipaliteit is volgens sy inkomste van R522,436 miljoen vir die boekjaar 2017/2018 en bevolking van 97 509 ’n graad 3-munisipaliteit wat ’n 4%-verhoging regverdig.

Selfoontoelae van R3 400 en datatoelae van R300 per maand bly egter onveranderd.

Indien die verhoging deur die minister goed­gekeur word, sal die burgemeester se salarispakket vir die boekjaar 2018/2019 van R795 913 per jaar vermeerder tot R827 749, dié van die onderburgemeester en speaker van R636 731 tot R662 200, lede van die burgemeesterskomitee s’n van R596 936 tot R620 813 en dié van gewone raads­lede van R251 877 tot R261 952.

Die verhogings, terugwerkend vanaf 1 Julie 2018, beloop ’n bykomende R297 521 wat die totale bedrag aan salarisse vir raadslede te staan bring op R9,978 miljoen.

Die voorstel is ingedien deur raadslid George Kersop, portefeuljevoorsitter van finansies, en ge­se­kondeer deur raadslid Henry Tyatya, hoofsweep van die ANC.