’N 24-JARIGE man van Oudtshoorn is Maandag in die Oudtshoorn Streekhof effektiewe tronkstraf van ses jaar opgelê vir die verbreking van ’n beskermingsbevel, huisbraak met die opset om te steel en diefstal.
Herbert-Lee Boesak het die voorwaardes van ’n beskermimgsbevel wat sy pa, ook Herbert, teen hom verkry het, verontagsaam toe hy by sy pa se huis ingebreek en verskeie items gesteel het.
Hy het tot die einde volgehou dat hy onskuldig is en sy pa hom toestemming gegee het.
Streeklanddros Sylvia Mandla het met vonnisoplegging gesê Boesak is nie ’n eerste oortreder nie en dat hy skuldig bevind is aan ernstige misdade wat baie algemeen voorkom. Wat verswarend is, is die feit dat sy pa die klaer is.
“Dit is baie hartseer as ’n ouer teen sy eie kind wat hy grootgemaak het, moet kom getuig. Dit is die laaste ding wat ’n ouer wil sien, maar kinders van vandag forseer hul ouers om dit te doen,” het die landdros gesê.
Volgens haar het Boesak geen berou getoon nie en tot die einde volgehou dat hy onskuldig is.
“Die beskuldigde moet vir homself vra hoekom sal ’n ouer leuens in die hof kom vertel teen ’n kind wat hy grootgemaak het. Die hof moet ’n duidelike boodskap uitstuur dat sulke optrede nie geduld sal word nie en ook ander voornemende misdadigers afskrik.” (Deur Garnett Wicomb)