Vrou kry ses jaar tronkstraf vir roof

‘N VROU van Rosebank wat saam met twee onbekende mans ’n ander vrou van haar handsak en beursie met R1 100 daarin, beroof het, is Maandag in die streekhof ses jaar gevangenisstraf opgelê vir roof met met verswarende omstandighede.

Valencia Smith (23) se verweer dat sy nie die betrokke dag op Oudtshoorn was nie en die klaer, Anna Claassen, ’n fout begaan het met haar identifikasie, is deur die hof verwerp omdat sy nie kon verduidelik waar sy die betrokke dag was nie.

Volgens Claassen was sy onderweg na die Unieplein Taxistaanplek in die middedorp toe sy in ’n gangetjie deur Smith en nog twee mans genader is. Smith het haar gegroet en na haar handsak gegryp, wat toe deur een van die mans met ’n mes losgesny is.

Sy het daarna in ’n taxi gaan sit en ’n rukkie later Smit met haar handsak uit ’n taverne sien kom. Sy het haar agtervolg en die handsak teruggeneem, maar nie die beursie met die geld gekry nie.

Smit se ID-dokument was in die handsak en sy het die saak by die polisie gaan aanmeld.

Streeklanddros Sylvia Mandla het bevind dat Smith een van die mense was wat die klaer beroof het en nie die waarheid in die hof gepraat het nie. Sy was nooit op Mosselbaai soos wat sy voorgegee het nie.

Dit het aan die lig gekom dat sy op Oudtshoorn was, maar nie kon verduidelik waar sy presies was nie.

Volgens die landdros is Smith aan ’n ernstige misdryf skuldig bevind wat in die laaste tyd algemeen voorkom en direkte gevangenisstraf die enigste gepaste vonnis daarvoor.

Sy het wel afgewyk van die voorgeskrewe mini-mum vonnis vir roof met verswarende omstandighede. (Deur Garnett Wicomb)