Man wat klipgooi na kind onder huisarres

’N 26-jarige man van Oudtshoorn wat ’n sewejarige kind met klippe raakgegooi het, is in die streekhof onder huisarres geplaas nadat hy aan aanranding met die opset om ernstig te beseer skuldig bevind is.

Streeklanddros Daniel Boks het met die vonnisoplegging van Eldino Solomons gesê beskuldigdes “kan nie agter dwelms en drank in die hof kom skuil nie”.

Solomons sê in sy pleitverduideliking dat hy die vorige dag tik gebruik het en nie geweet het wat hy doen nie.

Hy stry egter nie dat hy die kind kon tref toe hy glo klippe na honde gegooi het nie.

Boks het vir Solomons gesê dat hy hom nog een kans gee om buite die tronk te rehabiliteer en sy verslawing aan dwelms te oorkom. Dit sal sy eie skuld wees as hy dit nie doen nie.

Solomons is tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is, asook 24 maande korrektiewe toesig wat beteken dat hy 24 uur per dag in huisrraes is behalwe vir werk- en kerkdoeleindes. Hy moet hom weerhou van die gebruik van dwelms en alkohol en ook 16 uur per maand gratis gemeenskapsdiens doen. (Deur Garnett Wicomb)