Man verkrag glo vriendin van sy saamleefmaat

“HY sal ook graag wil weet waaroor sy gehuil het.”

So het Frans Moos (32) verlede week op ’n vraag van die staatsaanklaer in die Oudtshoorn streekhof geantwoord.

Moos staan tereg op ’n klagte van verkragting nadat hy na bewering sy saamleefmaat se vriendin op 4 September 2021 verkrag het toe sy die aand by hulle oorgeslaap het.

Volgens Moos het die klaer in September, na ’n begrafnis wat sy bygewoon het, by hulle aangekom. Hulle het saam meer as die helfte van ’n 5 liter houer wyn gedrink.

Sy het toe vir sy meisie gevra of sy daar kan oornag omdat dit reeds baie laat was.

Hy het agter sy meisie se rug gaan lê. Die klaer het ook in dieselfde vertrek op die kinders se bed gaan lê.

Nadia Arnolds, staatsaanklaer in die saak, het met kruisondervraging dit aan Moos gestel dat hy die enigste man in die huis was wat die klaer kon verkrag het, omdat die deur van binne gesluit was.

Die saak dien voor streeklanddros Daniel Boks. (Deur Garnett Wicomb)