DIE saak teen ’n man van Oudtshoorn wat van die handel in dwelms aangekla word is tot 23 Augustus uitgestel.
Dit na die slotbetoë van beide die staat en verdediging in die Oudtshoorn Streekhof verlede Woensdag.
July Katshweni word daarvan beskuldig dat hy in besit was van ’n duisend Mandrax tablette terwyl hy na Ladismith gereis het.
Hy pleit onskuldig.
Katshweni beweer hy is by ’n padblokkade buite Ladismith deur die polisie deursoek, sonder ’n aanstellingsbrief of om hom te vra om hom te deursoek.
Hy vertel dat sy rugsak na ’n polisievoertuig geneem is, waar een van die beamptes dit glo oopgemaak en ’n rooi sak met ’n duisend Mandraxtablette daarin uitgehaal het.
Hy beweer dat hy niks weet nie. Volgens hom het hy die rugsak in Kaapstad tussen die bestuurder en hulpbestuurder se sitplekke geplaas toe hy in die taxi geklim het. Hy het onderweg na Ladismith by twee geleenthede uitgeklim en sy sak in die taxi gelos.
Katsweni se regsverteenwoordiger, Christo van der Bergh, voer aan dat die polisiebeamptes wat die taxi by ’n padblokkade voorgekeer en deursoek het, nie die regte prosedures gevolg het nie.
Volgens die verdediging verskil die polisiebeamptes se ge- tuienis in baie opsigte. Dit kan ook nie verduidelik word en deur die hof aanvaar word nie.
Volgens die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, is Katshwni se weergawe ’n “opgemaakte storie” wat nie redelik moontlik waar is nie.
Volgens haar is hy nie na Kaapstad om vir die naweek te gaan kuier nie omdat hy nie klere saamgeneem het nie
Die saak dien voor streeklanddros Daniel Boks en is vir verdere getuienis uitgestel
Katshweni is op borg. (Deur Garnett Wicomb)