Schalk het die koue kom weglag

Adri Odendaal van KANSA (links) saam met Schalk Bezuidenhout. Foto: Angelique Erasmus

Bekende krulkop komediant, Schalk Bezuidenhout, het sy gehoor op ’n yskoue Woensdagaand aan die skaterlag gehad met sy skerp humorsin en unieke vertellings van situasies waarin Suid-Afrikaners hulself daagliks bevind.

Ook met vertellings uit sy kinderdae, soos die storie agter die gesegde “Mielie hom”, waarmee sy pa hom aangespoor het as langafstand atleet in sy skoolloopbaan.

Die doel van die konsert was om fondse vir KANSA in te samel.

Adri Odendaal, volhoubaar- heidsprojekleier van KANSA Suid-Kaap het aan Die Hoorn vertel dat sy vroeër al ’n aanlyn vertoning saam met Bezuidenhout wou hou.

“Hy wou eerder vir KANSA in lewende lywe kom ondersteun wanneer hy homself in die Wes-Kaap bevind, en dit was baie lekker om saam met hom te werk en lekker vir hom en sy grappe te lag,” het sy gesê.

Bezuidenhout het ook na afloop van sy vertoning by elke tafel ’n draai gemaak en saam met sy aanhangers gekuier, foto’s geneem en verder grappies gemaak.