Deur Garnett Wicomb
’N MAN van Ladismith wat sy lewensmaat met ’n mes in die nek gesteek en aan moord skuldig bevind is, is Maandag in die Oudtshoorn Streekhof gevangenisstraf van 15 jaar opgelê.
Marthinus Stoffels (50) het skuldig gepleit op die klagte dat hy op 1 Junie verlede jaar sy lewensmaat, Anna Snyman (56), met ’n mes in die nek gesteek het nadat sy ’n draagbare radio na hom gegooi en hy beserings in sy gesig opgedoen het.
Stoffels se regshulpprokureur, Wenzel Botha, het betoog dat ’n mindere vonnis gepas sal wees omdat alkohol betrokke was en Stoffels skuldig gepleit het. Stoffels het ook ’n bekentenis gemaak en sy samewerking van die begin af aan die polisie gegee.
Volgens getuienis het Stoffels uit ’n dronkslaap wakker geword toe die oorledene hom met die radio gegooi en weggehardloop het.
Botha het gesê die oorledene se kinders het Stoffels ook reeds vergewe en sal berus by die vonnis wat die hof oplê.
Die staatsaanklaer, Brendon Smith, het toegegee dat daar wel ’n mate van provokasie was, maar die hof versoek om in belang van geregtigheid Stoffels lank tronk toe te stuur.
Streeklanddros Retha Pretorius het bevind dat Stoffels se lewe nie bedreig is toe hy Snyman gesteek het nie. “Hy het ’n mes gegryp en die oorledene wat die huis verlaat het, agterna gesit en, terwyl sy onbewapen was, voor twee ander mense gesteek.
Pretorius het gesê ’n duidelike boodskap moet uitgestuur word dat die howe nie ligte vonnisse sal oplê vir geweld teen vroue en kinders nie. “Die hof kon geen wesenlike of dwingende omstandighede vind om af te wyk van die voorgeskrewe minimum vonnis van vyftien jaar vir moord nie.”
Stoffels is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. Die landdros het die familie van die oorledene meegedeel dat hulle beswaar kan aanteken indien hy later om parool aansoek doen.