Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen ’n man wat daarvan aangekla word dat hy Kersfeesaand 2016 ’n jong man in die Face da Bass Nagklub doodgesteek het, is na sy getuienis vir slotargumente en uitspraak uitgestel.
Alfonso Malgas staan tereg op ’n klagte van moord op Adrian Oliphant (19). Hy pleit onskuldig omdat hy homself verdedig het toe ’n groep van agt mans, waaronder die oorledene, hom glo aangeval en hy twee keer na hulle gesteek het.
Malgas het onder kruisverhoor getuig dat hy die nagklub wou verlaat toe hy in die voorportaal deur die groep mans aangeval is.
Volgens hom het die mans hom met twee bierbottels geslaan en wou die broer van die nag-klubeienaar hom met ’n mes steek en het hy gedreig om hom te laat doodskiet.
“Ek moes myself verdedig en het ’n mes wat ek in my broeksak gehad het, uitgehaal en twee keer gesteek,” het Malgas getuig.
Die saak dien voor streeklanddros Retha Pretorius.