Man van Dysselsdorp drie jaar tronktoe vir broer se dood

Generiese foto

’N MAN van Dysselsdorp wat tereg gestaan het op ’n klagte van strafbare manslag na die dood van sy broer is in die Oudtshoorn Streekhof onskuldig op die klagte bevind, maar wel skuldig aan aanranding met die opset om ernstig te beseer, en drie jaar gevangenisstraf opgelê.

Wesley Jansen en sy broer, Jackson Jansen, wat saam gewoon het, was volgens getuienis voor die hof op 21 April 2021 in ’n bakleiery in hul huis betrokke.

Toe Jackson later met ’n bebloede gesig uit die huis kom het Wesley hom agtervolg en ’n harde klap gegee. Jackson het met sy kop op ’n groot klip geval en is later in ’n buurvrou se huis dood. Hy het glo geweier om na die hospitaal geneem te word. Die broers se buurman, Godfrey Williams, het getuig dat hulle die betrokke dag saam gedrink het en Jackson later huistoe is om te gaan slaap.

Toe hy ’n rukkie later weer uit die huis kom was sy mond vol bloed. Williams weet nie wat in die huis gebeur het nie maar het daarna gesien hoe die beskuldigde sy broer klap dat hy val.

Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof versoek om die beskuldigde skuldig te bevind soos aangekla en direkte gevangenisstraf die enigste gepaste vonnis sal wees omdat hy nie ’n eerste oortreder is nie. Dr Christa Hattingh wat die nadoodse ondersoek op die oorledene gedoen het, het getuig dat indien hy mediese behandeling ontvang het, sy lewe moontlik gered kon gewees het.

Streeklanddros Ntsoki Moni het bevind dat die bekuldigde nie aan strafbare manslag skuldig bevind kan word nie maar wel aan aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Wesley Jansen is tot drie jaar tronkstraf gevonnis en ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. (Deur Garnett Wicomb)