DIE verhoor van ’n egpaar van Oudtshoorn wat van versekeringsbedrog aangekla word, kon Maandag weer nie in die Oudtshoorn Streekhof voortgaan nie omdat die man, wat tans ’n vonnis van twaalf jaar uitdien, nie vanaf die George gevangenis na die hof gebring is nie.
Die saak teen Ricardo en Desiree Bowkers is op 26 Februarie deur streeklanddros Ntsoki Moni uitgestel toe Ricardo nie doktersbriewe kon verskaf vir sy afwesigheid by twee vorige geleenthede nie.
Hy is toe gewaarsku dat die saak ’n volgende keer voortgesit sal word ongeag of hy siek of gesond is.
Die egpaar staan tereg op 22 klagtes van bedrog en geldwassery. Die staat het reeds sy saak gesluit en Desiree, wat tans onder kruisverhoor is, ontken dat sy enigiets van haar man se bedrywighede weet.
Die egpaar het na bewering vals eise by Santam ingedien en van die oortredings is glo gepleeg terwyl Ricardo in aanhouding was.
Adv Pieter van Wyk, wat Ricardo in opdrag van die regshulpraad verteenwoordig, het die hof ook meegedeel dat hy probleme ondervind met sy vergoeding. Die saak is daarna voorlopig tot 26 Junie uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)