Wat is God se lig? Dit is die onverklaarbare manier waarop ons hoop oor wanhoop, vrede oor chaos en vreugde oor hartseer kan ontvang. God se lig gaan verder as ons vleeslike emosies en optrede. Wanneer ons Christus in ons lewens aanvaar, kom woon die Heilige Gees binne-in ons. Sy krag word ons krag. Sy lig word ons lig.
Johannes skryf oor God en die begin van tyd. In Johannes 1:4-5 skryf hy: “In Hom was lewe, en daardie lewe was die lig van die hele mensdom. Die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorwin nie.” God is lig. Daarom, wanneer ons Christus in ons lewens innooi, sal Sy lig in en deur ons lewens gereflekteer word na ’n baie donker wêreld.
“Laat jou lig skyn”, impliseer dat ons ’n keuse het. Ons kan die lig van Christus laat skyn of nie. Ons kan die Heilige Gees binne-in ons hê, maar nie die krag van Christus gebruik om dit deur te voer nie. Ons kan God se lig bedek en die glans en krag daarvan vir onsself sowel as ander verborge hou. In plaas daarvan moet ons God se prag vrylaat en dit na ons gebroke en seer wêreld bring.
In Matteus 5:14-16 is Jesus se opdrag aan elke Christen baie duidelik:
MATTEUS 5:14-16 AFR83
“Julle is die lig vir die wêreld. ‘n Stad wat op ’n berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek ‘n mens nie ’n lamp op en sit dit onder ’n emmer nie maar op ’n lampstander, en dit gee lig vir almal in die huis. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”
Paulus skryf in Filippense 2:14-16 die volgende: “Doen alles sonder om te mor of te twis, sodat julle onberispelik en onskuldig kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ’n krom en verdraaide geslag, onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld, vashou aan die woord van die lewe, so sodat ek in die dag van Christus kan trots wees dat ek nie tevergeefs gehardloop of tevergeefs gearbei het nie.”
In die Johannes-evangelie word Jesus “die ware lig wat almal verlig” genoem (Joh. 1:9). Dwarsdeur die Nuwe Testament word die volgelinge van Jesus geroep om lig in die duisternis te wees.
Wat verhoed ons om te skyn?
Waarom sien jy die splinter wat in jou broer se oog is, maar let nie op die balk wat in jou eie oog is nie? – Matteus 7:3
Dit is maklik om die glans van ’n nuwe diamantring van oorkant die vertrek te sien. Maar met verloop van tyd kan daardie glans dof word soos stof daarop versamel. Net so kan sonde ons glans as ligte vir Jesus Christus verdoof. Ons lewens wat eens geskitter het met die vreugde van Christus, kan vertroebel word met ‘n liefde vir dinge van hierdie wêreld.
Voordat jy ’n lig vir ander kan wees, kyk eers na jou eie lewe. Het sonde die beeld van Christus in jou lewe verdof? Dit is tyd om te stop, ’n oomblik te neem en God te vra om enige sondes te openbaar wat jy dalk ignoreer. As daar ’n sonde is waarmee jy herhaaldelik worstel, skryf dit neer en bid voortdurend daaroor. Vra God vir Sy vergifnis en hulp om jou hart te verander. Ons sal nooit perfek wees nie, maar ons moet ons sonde aanspreek.
Hoe kan ons prakties Jesus se lig skyn vir ander?
- Wees anders as die wêreld: Ons leef in ’n donker wêreld, vol leuens, haat en verwarring. Maar God se Woord sê vir ons om “die werke van die duisternis af te werp en die wapenrusting van die lig aan te trek” (Romeine 13:12). Terwyl ander jaag na fisiese plesier en selfsugtige gewin, word ons beveel om op ’n ander manier te leef—om “met die Here Jesus Christus te beklee en geen voorsiening te maak vir die vlees om sy begeertes te bevredig nie” (Romeine 13:14).
- Wees sigbaar: Jesus het gesê: “Laat julle lig voor ander skyn” (Matteus 5:16a). Hy het verduidelik dat niemand ’n lamp aansteek net om dit onder ’n mandjie weg te steek nie. ’n Lamp is bedoel om op ’n staander geplaas te word om lig aan alles rondom dit te gee. Of jy bedees of uitgaande is, jy is geroep om ’n lig te wees vir die mense rondom jou. Dit is net moontlik as jy tyd neem om met mense te kommunikeer en verhoudings te kweek.
- Wys altyd terug na die bron van lig: Toe Jesus gesê het: “Laat jou lig voor ander skyn,” was dit nie die hele sin nie. Hy het voortgegaan om die rede te gee waarom dit belangrik is om te skyn: “sodat mense jou goeie werke kan sien en eer kan gee aan julle Vader wat in die hemele is” (Matteus 5:16b). Ons doel moet nooit wees om erkenning aan onsself te bring nie, maar om eer aan God te bring.
- Wees versigtig oor wat jy sê: Die Bybel noem die tong “’n rustelose boosheid, vol dodelike gif” ( Jakobus 3:8 ). Woorde is kragtig en kan vir goed of sleg gebruik word. Jy kan selfs hierdie vers iewers plaas as ’n herinnering: “Laat geen bedrieglike praatjies uit jou mond uitgaan nie, maar net wat goed is om op te bou, soos die geleentheid pas, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor” (Efesiërs 4:29)
- Oorweeg jou blootstelling: Watter programme of flieks kyk jy? Na watter tipe musiek luister jy? Sou jy na dieselfde plekke gaan, dieselfde dinge kyk of na dieselfde musiek luister as Jesus langs jou gesit het? Of sal jy skaam wees? Dit klink dalk dom, maar om daardie vrae te vra is ’n goeie manier om jouself in toom te hou, of jy alleen is of saam met ander.
- Gebruik sosiale media verstandig. Mense kyk wat jy plaas, of hulle met jou plasings interaksie het of nie. Dink aan die dinge wat jy onlangs geplaas of gedeel het soos opmerkings, foto’s ens. Pas dit by ’n volgeling/ambassadeur van Jesus? Is dit selfgesentreerd, onbeskof, walg-lik, vol vuil taal, afbrekend en negatief? Wat is jou motief en hoekom? Deel eerder ingeligte, deurdenkte, respekvolle plasings wat die Here verheerlik en eer gee.
- Dink aan ander. Neem ander mense se behoeftes in ag en help om daaraan te voldoen. Moedig aan in plaas van kritiseer. Wees geduldig, gee ander die voordeel van die twyfel. As jy skinderpraatjies hoor, distansieer jouself daarvan of verander die onderwerp en gaan vind self uit by die persoon en bid vir hulle. Wanneer jy ’n moeilike persoon teëkom, onthou dat hulle gemaak is en ook deur God geliefd is. Bo alles, “Behandel ander soos jy wil hê hulle moet jou behandel” (Lukas 6:31).
Hierdie praktiese beginsels sal Jesus se lig vir ’n stukkende en verdraaide wêreld reflekteer. Jy sal die eer hê om dit te kan doen en jou Vader in die Hemel sal daardeur verheerlik word. Wat kan beter as dit wees? (Deur Pastoor Francois Mattheüs)
