’n Man van Calitzdorp is in die Oudtshoorn streekhof skuldig bevind op twee aanklagte van huisbraak met die opset om te steel, asook op klagtes van menseroof, opsetlike saakbeskadiging en aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Streeklanddros Ntsoki Moni het Kobus Coetzee se verweer verwerp en die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof versoek om hom op al die aanklagte skuldig te bevind.
Hy is daaraan skuldig bevind dat hy by twee huise ingebreek en ook ’n sestienjarige meisie ontvoer en ernstig aangerand het deur haar met ’n mes te steek.
A.o Phillip Hobanie en a.o Conrad Jullies het getuig dat Coet-zee se vinger- en handpalmafdrukke op ’n stuk gebreekte glas en ’n reukweerder spuitkannetjie in ’n huis in St Helena buite Calitzdorp gelig is waar hy glo ingebreek het.
Jullies het die hof meegedeel dat geen twee mense se vingerafdrukke dieselfde is nie, selfs nie dié van ’n identiese tweeling nie.
Die saak is vir vonnis tot 9 April uitgestel en Coetzee bly in aanhouding. (Deur Garnett Wicomb)
Man van Calitzdorp skuldig op vyf aanklagte
