Bowkers-egpaar skuldig bevind op 39 aanklagte

’n Egpaar van Oudtshoorn is op altesaam 39 aanklagte van versekeringsbedrog in die streekhof skuldig bevind.

Hul vonnisoplegging is uitgestel tot 10 April.

Ricardo Bowkers wat tans ’n vonnis van 12 jaar uitdien is op 22 klagtes skuldig bevind, terwyl sy vrou op 17 aanklagte van bedrog skuldig bevind is.

Hulle het op slinkse wyse vals eise by Santam ingedien en hul weergawes is deur streeklanddros Ntsoki Moni verwerp.

Desiree Bowkers het volgehou dat sy niks van haar man se bedrywighede geweet het nie, terwyl sy wel bankrekeninge op die name van hul twee seuns geopen het waarin Santam duisende rande betaal het.

Die hof het bevind dat die staat sy saak bo redelike twyfel bewys het en die saak is vir voorvonnis betoë uitgestel.

Wenzel Botha van die regshulpraad verskyn namens Desiree Bowkers, adv Pieter van Wyk vir Ricardo Bowkers en Hyron Goulding vir die staat. (Deur Garnett Wicomb)